Goeie naweek vir SA Gholf

Erik van Rooyen. Foto: ANA.

Die Spanjaard Jon Rahm spog met twee oorwinnings op ʼn streep en verskeie van Suid-Afrika se top-gholfspelers het die afgelope naweek reg oor die wêreld voëltjies by die dosyne ingeryg.

Die 28-jarige Rahm het Sondag in La Quinta in Kalifornië die American Express-titel agter sy naam geskryf, nadat hy twee weke gelede in Hawaii ook die PGA-reeks se Toernooi van Kampioene gewen het.

Rahm het die laaste ronde met agtereenvolgende voëltjies by die eerste twee putjies begin, waarna hy nooit weer omgekyk het nie. Hy het uiteindelik as oorwinnaar van die baan gestap ná ’n telling van 68 vir ’n totaal van 261 – 27 houe minder as syfer.

Die bebaarde Spanjaard het die Amerikaanse nuweling Davis Thompson (69 vir 262) met een hou na die kroon gesteek en agterna breed geglimlag oor sy vierde sege in sowat drie maande.

Rahm het einde verlede jaar in Spanje en in Dubai oorwinnings op die Europese reeks behaal.

“Ek is verheug oor my oorwinning, maar was vandag (Sondag) dalk bietjie gelukkig. Dit is maar hoe dinge werk.

“Ek speel van die beste gholf van my lewe op die oomblik en dink ek is tans die beste speler ter wêreld,” het hy gespog.

Rahm se oorwinning het hom een plek laat opskuif op die wêreldranglys. Hy beklee nou die derde posisie agter die wêreld se amptelike nr. 1-speler Rory McIlroy en die Yank Scottie Scheffler.

Die Suid-Afrikaners in die American Express-veld het die naweek deeglike kennis van hulself laat neem.

Erik van Rooyen het die vierde ronde in ’n skitterende 62 houe – tien houe minder as die baansyfer – voltooi en op ’n totaal van 265 (-23) in die gesamentlike sesde plek geëindig.

Van Rooyen se landgenote Garrick Higgo en Christiaan Bezuidenhout het die gesamentlike elfde posisie gedeel op 266 (-22).

Higgo het sewe agtereenvolgende voëltjies behaal onderweg na ’n telling van 63, terwyl Bezuidenhout met ’n teleurstellende 69 afgesluit het nadat hy Saterdag die baan aan die brand gespeel het met ’n puik 62.

Reto skiet te kort in Florida

In Orlando, Florida was dit ʼn geval van naby, maar uiteindelik ver vir Suid-Afrika se Paula Reto.

Die boorling van Strand het gesamentlik sesde in die LPGA-reeks se Toernooi van kampioene geëindig, nadat sy in ’n stadium die tweede posisie op die voorlopersbord beklee het.

Reto het Sondag ʼn 70 in die laaste ronde op die Lake Nona-baan aangeteken om op 280 (-8) klaar te maak, nadat sy in ’n stadium op -11 in die nek van die Kanadees Brooke Henderson geblaas het.

Henderson het van dag een af die pas aangegee en ná tellings van 67, 66, 69 en 70 op 272 (-16) het sy vier houe voor die Sweed Maja Stark (69 vir 276) en die Brit Charley Hull (69 vir 276) geëindig, met Nelly Korda (72 vir 277) in die vierde plek.

Reto het twee houe voor haar landgenoot Ashleigh Buhai (71 vir 282) klaargemaak.

Reto het oor die laaste drie rondes die naasbeste vertoning van al die spelers gelewer met tellings van 67, 69 en 70. Die 74 wat sy die eerste dag aangeteken het, het haar egter gepootjie.

Els skop goed af

Ernie Els. (Foto: Tyrone Winfield/ANA)

In Hawaii het Suid-Afrika se Ernie Els sy gholfjaar op nie ʼn te slegte noot nie begin deur gesamentlik sesde te eindig in die Kampioene-reeks se Mitsubishi Electric-kampioenskap.

Els het die toernooi in 200 houe – sestien houe minder as die syfer – voltooi nadat hy in die derde en laaste ronde ’n telling van 66 aangeteken het.

Die Amerikaner Steve Stricker het die titel agter sy naam geskryf nadat hy die 54 putjies in ’n puik 193 – 23 houe minder as syfer – voltooi het, met vier spelers, onder wie die Ier Darren Clarke, wat op 199 die tweede plek gedeel het.

Stricker het op die eerste dag ’n briljante telling van 60 aangeteken en so byna slegs die tweede speler in die geskiedenis van die Kampioene-reeks geword wat die magiese telling van 59 kon aanteken.

Die Yank Kevin Sutherland het in 2014 in die tweede ronde van die Dick’s Sporting Goods Classic die eerste speler geword wat dié prestasie kon vermag.

Suid-Afrika se David Frost en Retief Goosen het op 212 in die gesamentlike 32ste plek klaargemaak, nadat albei tellings van 73 in die laaste ronde aangeteken het.

Coetzee verbrou in Abu DhabiDie Pretorianer George Coetzee het Sondag ’n teleurstellende dag op die Yas Links-baan in Abu Dhabi beleef, toe hy die vierde en laaste ronde van die HSBC-kampioenskap in 74 houe voltooi het om op ’n totaal van 281 in die gesamentlike 38ste posisie klaar te maak.

Die 36-jarige Coetzee het 22 posisies teruggesak nadat ’n dubbele brouhou en drie verdere verlore houe in die middel van sy ronde sy aanslag op ’n plek onder die toptien laat ontspoor het.

Die Fransman Victor Perez het op ’n totaal van 270 – agttien houe minder as syfer – sy derde titel op die DP World-reeks verower.

Die 30-jarige Perez het ná ’n puik 66 een hou voor die Australiër Min Woo Lee (68) en die Sweed Sebastian Soderberg (67) klaargemaak.

Perez het drie jaar gelede tweede in Abu Dhabi geëindig, maar dié keer die nodige skietgoed gehad om as kampioen van die baan te stap en sy posisie op die Ryderbeker-punteleer te verstewig.

Afgesien van Coetzee was die Alfred Dunhill-kampioen Ockie Strydom (71 vir 286) die enigste ander Suid-Afrikaner wat die afsnypunt vrygespring het. Hy het 63ste geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.