Goor weer bring probleme vir gholfspelers

Swak weerstoestande het later die dag ‘n bottelnek van spelers op die 18de putjie van die BMW PGA-kampioenskap veroorsaak. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Daar is een ding waarvoor gholfspelers hulle asems ophou, maar geen beheer oor kan uitoefen nie: swak weerstoestande.

Op Wentworth in Surrey, Engeland, kon die tweede ronde van die BMW PGA-kampioenskap laat Vrydagmiddag nie voltooi word nie nadat die spel vroeër in die dag vir sowat 80 minute lank weens digte mis nie kon plaasvind nie.

Dit het tot ʼn bottelnek van spelers op die 18de putjie gelei en daar was boonop ʼn besope toeskouer wat in ʼn woordewisseling met Tomas Björn van Denemarke betrokke geraak het. Die elektroniese telbord langs die 18de setperk moes ook as ʼn spreilig ingespan word om die setperk te verlig.

Die twee Sweedse spelers Sebastian Söderberg en Ludvig Aaberg, een van die groentjies by vanjaar se komende Ryderbeker-toernooi, loop in die Europese reeks se PGA-kampioenskap saam voor op 134 houe (-10).

Hulle word gevolg deur Mashiro Kawamura van Japan, Thomas Detry van België, die Pool Adrian Meronk en Tommy Fleetwood van Engeland (almal saam op 135, -9), met Sepp Straka van Oostenryk en Aaron Rai van Engeland wat op 136 houe (-8) geëindig het.

Marcus Heligkilde van Denemarke is ook op -8, maar hy was op die 14de putjie toe dit te donker geraak het om voort te speel.

Van die Suid-Afrikaners sal Louis de Jager en Zander Lombard (albei 141, -3) en Oliver Bekker (143, -1) vir die derde ronde kwalifiseer, maar die valbyl sal straks op Thriston Lawrence (145), Ockie Strydom en Justin Walters (albei 149) en JC Ritchie (151) sak.

SA-weer steek ook kop uit

In Stellenbosch kon die tweede ronde van Vodacom Origins se Wes-Kaapse toernooi by die Devonvale gholf- en wynlandgoed ook nie weens wind en reën voltooi word nie.

In hierdie toernooi loop Pieter Moolman (-5) van Suid-Afrika met twee houe voor CJ du Plessis (-3) ná die onvoltooide tweede ronde van die Vodacom Origins of Golf-toernooi wat deel is van die plaaslike Sonskynreeks.

Moolman het sy ronde voltooi net voordat dit te donker geraak het.

Louis Albertse, Albert Venter, Robin Williams en Pierre Pellegrin (Mauritius) was almal saam op -2, hoewel Pellegrin Saterdag nog drie putjies moet voltooi.

Kyle McClatchie, Rupert Kaminskly, die Amerikaner Clancy Waugh, Nikhil Rama en Martin Rohwer is almal saam op -1.

In die Amerikaanse PGA-reeks se Fortinet-toernooi wat by die Silverado-buiteklub in Scottsdale, Arizona, beslis word, loop Sahith Theegala van Amerika en Seong-Hyeon van Suid-Korea saam voor op 132 houe (-12) ná die tweede ronde.

Kim se landgenoot Sang-Moon Bee is derde op 133 (-11) met die Amerikaner Eric Cole vierde op 134, gevolg deur sy landgenote Kelly Kraft (135), Max Homa, Justin Lower, Justin Thomas en Sam Ryder en die Aussie Cameron Davis wat almal saam sesde is op 136, (-8).

Suid-Afrika se Erik van Rooyen is 19de op 138 (-6).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.