Grace klim 56 ranglysplekke

Branden Grace vier sy oorwinning saam met sy seun. Foto: ANA.

Suid-Afrika se Branden Grace het ’n ongelooflike 56 ranglysplekke geklim ná sy uithalervertoning by die afgelope Suid-Afrikaanse Ope op die Randpark-baan in Johannesburg.

Die 31-jarige Grace het op 263 houe geëindig, 21 houe onder die baansyfer nadat hy rondes van 64, 70, 67 en 62 gespeel het. Hy het drie houe voor sy groot vriend Louis Oosthuizen (266) geëindig, wat 68 houe in die ronde aangeteken het nadat hy Sondagoggend as voorloper en groot gunsteling afgeslaan het.

Die sege het gesorg dat Grace tans die 73ste beste gholfspeler ter wêreld is. Vóór Sondag was hy 129ste op die ranglys.

Dit was Grace se negende oorwinning op die Europese Toer en die eerste sedert hy in 2017 die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City gewen het. Hy het egter ’n teleurstellende 2019 gehad en 11 keer die valbyl misgeloop.

Maar hy het Sondag Oosthuizen se kans in die wiele gery om sy SA Ope-titel suksesvol te verdedig.

Oosthuizen moes tevrede wees met sy tweede plek. Hy is egter steeds Suid-Afrika se voorste speler op die wêreldranglys en beklee tans die 18de plek.

Ander SA spelers in die top-100:

  • Erik van Rooyen (48ste)
  • Justin Harding (78ste)
  • Christiaan Bezuidenhout (90ste)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.