Half miljard vir Johnson ná LIV-oorwinning

Dustin Johnson. Foto: Twitter.

’n Ongelooflike half miljard rand om ’n gholfballetjie so nou en dan te slaan.

Dít is die hoeveelheid geld wat die Amerikaner Dustin Johnson tot nou toe in sy sak gesteek het vir sy deelname aan die omstrede LIV-reeks.

En moenie dink Johnson het dag en nag balletjies geslaan nie. Die nagenoeg R560 miljoen wat hy tot dusver vanjaar verdien het, was vir sy deelname aan slegs ses toernooie.

In hierdie ses toernooie het Johnson 324 putjies gespeel en altesame 1 228 keer die balletjie geslaan. Dit beteken hy het meer as R25 000 met elke hou verdien.

Die LIV-reeks het Maandag aangekondig dat Johnson dié reeks se eerste wenner van die seisoen se algehele individuele kompetisie is.

Die Yank het in die eerste ses toernooie agtste, vierde, derde, eerste, derde en sestiende geëindig en kan nie meer na die kroon gesteek word nie in vandeesweek se laaste individuele toernooi in Jeddah.

Johnson se bonus as individuele LIV-kampioen is ʼn astronomiese wentjek van $18 miljoen (sowat R325 miljoen).

Dit is presies dieselfde bedrag as wat die Ier Rory McIlroy gewen het toe hy as die Amerikaanse PGA-reeks se FedEx-beker-kampioen gekroon is.

Afgesien van die wenbonus as individuele kampioen, het Johnson ook byna $13 miljoen (sowat R235 miljoen) aan prysgeld in sy ses LIV-verskynings gewen.

Johnson en McIlroy is nek aan nek wat betref hul verdienste op die gholfbaan tot dusver vanjaar.

McIlroy het benewens sy FedEx-tjek ’n verdere byna $11 miljoen (sowat R198 miljoen) aan prysgeld en bonusse op die Amerikaanse PGA-reeks verdien, terwyl hy baie naby aan ’n verdere $2 miljoen (sowat R36 miljoen) in Europa gewen het.

Dit beteken dat hy en Johnson basies gelyk trek op nagenoeg $31 miljoen (nagenoeg R560 miljoen) en hul seisoene is nog nie verby nie.

McIlroy het egter in 22 toernooie gespeel en altesame 4 628 houe geslaan, wat sy verdienste op sowat R7 000 per hou te staan bring in vergelyking met Johnson se R25 000 per hou.

Dit is juis dié reusebedrae geld wat die LIV-spelers verdien wat die oorsaak is van die groot uitval tussen hulle en die spelers op die PGA-reeks en in Europa.

Die LIV-spelers word van geldgierigheid beskuldig en dat hulle die Saoedi-Arabies gefinansierde reeks help met beeldpoetsery om hul swak menseregte-rekord te verbloem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.