Johnson is baas in Las Vegas

Dustin Johnson. (Foto: AP Photo/Charles Rex Arbogast)

Die Amerikaner Dustin Johnson het Saterdagaand (SA tyd) by die Las Vegas-buiteklub sy derde toernooi in die LIV-reeks gewen, toe hy sy landgenote Peter Uhlein en Talor Gooch in die derde en laaste ronde uitgestof het.

Johnson het die ronde in koue en winderige toestande in 69 houe voltooi en op 198 houe (-12) geëindig. Hy het 4 miljoen Amerikaanse dollar (R76 miljoen) met sy oorwinning verdien.

Uhlein en Gooch was saam tweede op 199 (-11) met Matthew Wolff vierde op 200 (-10), gevolg deur Paul Casey (Engeland), Graeme McDowell (Noord-Ierland) en Jason Kokrak (Amerika) wat saam op 201 houe (-9) geëindig het.

Die Spanjaard Jon Rahm het op 202 (-8) agtste geëindig.

Branden Grace (206, -4) was saam 21ste met Dean Burmester gelyk aan baansyfer.

Louis Oosthuizen (213, +3) was 50ste (met prysgeld van R1,1 miljoen).

Charl Schwartzel (220, +10) het 53ste en laaste saam die Amerikaner Branden Steele geëindig nadat hy 80 houe in die derde ronde aangeteken het.

Schwartzel het sowat R952 000 verdien.

Die Suid-Afrikaanse Stinger-span (+5)  het 12de van die 13 spanne geëindig, met Smash (-33) die wenner, gevolg deur 4-Aces (-26).

Gure weer stop PGA

In die Phoenix-Ope wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks en op Scottsdale in Arizona, Kalifornië gespeel word, kon die derde ronde ook nie vanweë gure weerstoestande voltooi word nie.

Die Kanadees Nick Taylor loop op -13 houe voor nadat hy ses putjies voltooi het.

Hy word gevolg deur die Amerikaner Sahith Theegala (-12) met Doug Gim en Andrew Novak (albei Amerikaners) saam op -11.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout was op -5 nadat hy 13 putjies voltooi het met sy landgenoot Garrick Higgo op -4.

SA’ners sak terug in Doha

By die Doha-buiteklub het Suid-Afrika se

Zander Lombard in aksie. (Foto: Twitter/ Zander Lombard)

(73 houe) in die derde ronde van die Katar-Meesterstoernooi aangeteken wat hom tot 18de posisie laat terugsak het.

Lombard, wat ná die tweede ronde stewig in die wedloop was, is saam met sy landgenote Ockie Strydom, Hennie du Plessis, Louis de Jager en Jayden Schaper saam op 211, met Jacques Kruyswijk (212) en Jaco Prinsloo en Thriston Lawrence (albei 213) verder terug.

Die Fransman Ugo Coussaud, Rasmus Hojgaard van Denemarke en Rikuya Hoshino van Japan loop saam voor op 206 houe (-10).

Hulle word gevolg deur Ewen Ferguson (Skotland), Niklaas Noergaard Moeller (Denemarke) en Tom McKibbin (Engeland) wat almal saam op 207 houe in die vierde posisie is.

Sweed loop voor in Kaapstad

In die Sonskynreeks se Kaapstad-Ope wat op die Royal Cape-baan gespeel word, het die Sweed Mikael Lindberg in die derde ronde na vore geskiet en die voortou op 205 houe (-11) geneem.

Hy word gevolg deur die Suid-Afrikaners Michael Hollick, Thomas Aiken, Ryan van Velzen en Louis Albertse, asook Sam Hutsby (Engeland), die twee Franse Robin Sciot-Siegrist en Martin Couvra (almal op 206, -10).

Gorlei sak uit

In die Kenia-Ope vir vroue wat deel is van die Europese reeks, het Carli Gorlei van Suid-Afrika, wat ná die tweede ronde voor was, in die derde ronde uitgesak nadat sy 77 houe aangeteken het.

Alessandra Fanali van Italië en Shannon Tan van Singapoer is saam voor op 210 houe (-9) gevolg deur Samantha Bruce van die Filippyne (215, -4).

Gorlei is op 218 (-4) in die 12de posisie met Lee-Anne Pace op 222 (+3) en Nicole Garcia op 225 (+6).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.