Kookwater-Keenan medevoorloper by Glendower

Die talentvolle Wes-Kaapse gholfster Keenan Davidse het Donderdag op Glendower in Edenvale van die beste gholf van sy loopbaan gespeel. (Foto: Facebook)

Die talentvolle Wes-Kaapse gholfster Keenan Davidse het Donderdag op Glendower in Edenvale van die beste gholf van sy loopbaan gespeel om die eerste dag van die Jonsson Workwear-Ope as medevoorloper af te sluit.

Die 34-jarige Stellenbosse beroepspeler en die Spanjaard Ivan Cantero is die gesamentlike voorlopers op 64 houe (-8) in die Europese reeks se tweede en laaste toernooi op plaaslike bodem.

Davidse se kookwatervertoning ewenaar sy beste telling nóg in ʼn beroepstoernooi, terwyl Cantero se vuurwerkspel sy beste vertoning nog op énige vlak is.

Davidse se puik vertoning is merkwaardig deurdat hy die laaste paar weke twee reuseterugslae moes verwerk. Hy het middel verlede maand eers sy tante aan die dood afgestaan, waarna sy afrigter, Arnold Mentz, binne dae daarna ook dood is.

Mentz was lank die beroepspeler by die Stellenbosch-klub, asook die kommissaris van die Sonskynreeks in die laat 90’s.

“Ek voel beter vandag en is op ʼn beter plek en bitter dankbaar dat ek kan gholf speel.

“Dit was ʼn goeie dag, gevul met opwinding en genot. Ek het daarin geslaag om geduldig te bly en te verseker dat ek in die wedloop bly,” het Davidse Donderdag ná sy puik openingsvertoning gesê.

Die Eikestad-speler het sy ronde met ʼn voëltjie afgeskop, net om dadelik by die tweede putjie ʼn hou aan syfer af te staan. Drie voëltjies daarna het hom in 33 (-3) sien draai.

Oor die tweede nege het hy gewys dat sy deurbraaksege wink deur vyf voëltjies op sy telkaart in te vul sonder enige verlore houe.

“Ek speel altyd goed oor die naweke, so dit is belangrik dat ek oor die eerste twee dae in die wedloop bly en nie agterraak nie. Vandag het ek dit reggekry om by te hou,” het Davidse agterna gesê.

Hy is die laaste twee weke goed op dreef en het onder die toptien op Humewood en 16de op die St. Francis Links-baan geëindig.

Cantero was ná sy vertoning verras dat hy so goed vertoon het.

“Ek het die seisoen aaklig begin en het absoluut geen vertroue op die baan gehad nie deurdat ek van die bof af en op die setperke erg gesukkel het. Die afgelope twee weke bespeur ek egter ʼn oplewing en daar is flikkeringe van hoop dat my beste spelpeil aan die terugkeer is,” het Cantero gesê nadat hy vyf voëltjies oor sy tweede nege putjies aangeteken het om hom by Davidse boaan die voorlopersbord aan te sluit.

Die twee voorlopers word op 65 (-7) gejaag deur Thriston Lawrence, Oliver Bekker en Louis de Jager.

Al drie is gerekende spelers in die Europese reeks en veral die veelmalige wenner Lawrence word hoog geag. Hy het Donderdag ses voëltjies en ʼn arend aangeteken en slegs een keer ʼn hou laat val in ʼn vertoning wat gewys het hy het weer sy beste spelpeil herwin.

Robin Williams, wat Sondag in die Oos-Kaap in ʼn uitspeelstryd om die SDC-titel die knie moes buig, het teruggebons van die teleurstelling van so naby, maar tog so ver.

Williams, die Engelsman Jordan Smith en die twee Suid-Afrikaanse spelers, Shaun Norris en Jacques Kruyswijk, het al vier 66 houe (-6) gespeel en beklee die gesamentlike sesde posisie ná die eerste dag se spel wat gekenmerk is deur ongewone dwarrelwinde wat sake vir die spelers bemoeilik het.

*In Florida in die Amerikaanse PGA-reeks se Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi op Bay Hill is die Ier Shane Lowry die voorloper ná die eerste ronde.

Lowry gee die pas aan met een hou nadat hy 66 houe (-6) aangeteken het om sy naam boaan die voorlopersbord te laat pryk.

Hideki Matsuyama van Japan en die Yank Justin Lower is op 67 (-5) in die tweede plek.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen (72) lê gesamentlik 35ste, met Christiaan Bezuidenhout in die 57ste plek ná ʼn telling van 74.

Die Noord-Ier Rory McIlroy het ʼn sukkelbegin gehad met ʼn vertoning van 73 (+1), wat hom saam 49ste geplaas het.

Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, het 70 houe (-2) gespeel en is in die 20ste posisie in die uitgelese veld van slegs 69 spelers.

*ʼn Eerste beroepstitel wink vir die 25-jarige Sweed Ellen Hutchinson-Key nadat sy die voortou geneem het ná die tweede ronde van die ADT Fidelity-uitdaagtoernooi op die Blue Valley-landgoed buite Centurion.

Hutchinson-Key geniet ʼn voorsprong van twee houe nadat sy Donderdag ʼn baie goeie telling van 67 houe (-5) op haar telkaart ingevul het vir ʼn totaal van 135 (-9).

Sy het ʼn wisselvallige eerste nege putjies beleef met drie voëltjies en ʼn arend wat deur ʼn enkel- en dubbel-brouhou ontsier is. Nadat sy in ʼn wipplanktelling van 34 houe gedraai het, het sy oor die tweede nege bestendige spel gelewer en drie verdere voëltjies aangeteken sonder om enige verdere houe aan syfer af te staan.

Indien sy oor Vrydag se laaste 18 putjies die spel kan herhaal wat sy in die tweede helfte van haar tweede ronde opgedis het, sal sy nie maklik na die kroon gesteek word nie.

Die gewese Mississippi-student se grootste bedreiging is Ariane Klotz van Frankryk, wat op 137 (-7) die tweede plek beklee nadat sy ook ʼn 67 gespeel het. Klotz se vertoning was foutloos en sy het al die slaggate op die Gary Player-uitleg suksesvol vermy. Sy sal dit Vrydag weer moet doen indien sy enige wendrome koester.

Helen Kreuzer (68 vir 138) lê derde, gevolg deur Carolin Kauffmann (70) en Tina Mazarino (68) op 139 in die gesamentlike vierde posisie.

Die tiener Kiera Floyd en die veteraan Stacy Bregman is die Suid-Afrikaanse vaandeldraers op 140 (-4). Floyd het 72 houe (gelyk aan baansyfer) gespeel, terwyl Bregman vir ʼn 70 geteken het.

Altesame 32 spelers het die afsnymerk van 145 (+1) vrygespring en vir Vrydagoggend se derde en laaste ronde gekwalifiseer.

  • Bykomende inligting: DP World Tour, PGA Tour, Sunshine Ladies Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.