Mcllroy op Fitzpatrick se spoor

Matthew Fitzpatrick. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images/AFP)

Die Engelse gholfspeler Matthew Fitzpatrick is ná die tweede rondte van die DP World Tour-kampioenskap in Dubai op koers om die jaar as die voorste Europese speler af te sluit, maar dit sal hom loon om die telbord dop te hou, want sy groot teenstander, Rory McIlroy van Noord-Ierland, is besig om nader te kruip.

Fitzpatrick en sy Engelse landgenoot Tyrell Hatton is saam voor op 132 (-12). Hul tellings is drie houe beter as dié van Adri Arnaus (Spanje) en Alex Noren (Swede) wat op 135 (-9) geëindig het.

Hulle word gevolg deur nog twee Spanjaarde, Jorge Campillo en Jon Rahm (albei op 136, -8), met Tommy Fleetwood, wat verlede Sondag by Sun City die Nedbank-uitdaagtoernooi gewen het, op 138 (-6).

McIlroy was ná 15 putjies in die tweede rondte slegs een hou onder baansyfer, maar hy het op die laaste drie putjies twee voëltjies en ʼn arend aangeteken om 68 houe op sy telkaart in te vul.

As die 28-jarige Fitzpatrick sy derde toernooi in vanjaar se Europese reeks wen, sal hy die eerste keer as die voorste speler in die Europese reeks gekroon word.

Maar as McIlroy tweede eindig, sal hy die Harry Vardon-trofee ontvang.

As Fitzpatrick tweede eindig, sal McIllroy swakker as sewende moet eindig om nie as Europa se voorste speler af te sluit nie.

Die twee Suid-Afrikaners (slegs die top-50-spelers in die Europese reeks neem deel) Oliver Bekker (146, +2) en Thriston Lawrence (148, +4) is buite die wedloop.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se RSM-Classic-toernooi wat by die Sea Island-buiteklub in Georgia gespeel word, loop drie Amerikaners, Harry Higgs, Cole Hammer en Andre Putman, saam voor op 130 houe (-12) ná die tweede rondte.

Hulle word gevolg deur Sahith Theegala, Joel Dahmen en Beau Hossler (almal van die VSA) op 131 houe (-11).

Suid-Afrika se Dean Burmester is op 134 houe (-8) binne treeafstand met MJ Daffue op 138 (-4).

* Die Nieu-Seelander Lydia Ko is ná die tweede rondte van die CME-kampioenskap wat by die Tiburon-gholfklub in Florida gespeel word, op pad om die jaar as die voorste vrouespeler op die wêreldranglys af te sluit.

Ko, wat 65 houe in die eerste rondte aangeteken het, het dit met 66 houe in die tweede rondte opgevolg.

Sy het op 131 houe geëindig, wat 13 houe onder baansyfer is.

Sy is vyf houe voor haar naaste teenstander, Hyo-Joo Kim van Korea (136), met Nelly Korda (VSA), Anna Nordqvist (Swede) en Gemma Dryburgh van Skotland saam derde op 137 (-7).

Suid-Afrika se Paula Reto is op 143 (-1) met Ashleigh Buhai op 148 (+4).

Ko beleef ʼn ongelooflike jaar en haar gemiddelde rondtetelling is 68.964.

As sy die laaste toernooi in vanjaar se LPGA-reeks wen, sal sy haar verdienste tot 4,3 miljoen Amerikaanse dollar (bykans R75 miljoen) opskuif.

* Nog goeie nuus vir die wêreld se vrouespelers is dat aanstaande jaar se toernooiprysgeld tot ʼn ongelooflike 101,4 miljoen Amerikaanse dollar (sowat R39 miljard) verhoog word.

Dit sal uit 33 toernooie wêreldwyd bestaan wat in 12 lande beslis sal word. Die prysgeld is meer as dubbel as wat die spelers skaars tien jaar gelede verdien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.