Mickelson klaar met dobbel; wil beter mens wees

Die gholf-ster Phil Mickelson het weer openhartig oor sy dobbelverslawing gepraat. (Foto: Mike Stobe/Getty/AFP)

Die gewilde Amerikaanse gholfster Phil Mickelson sê hy is klaar gedobbel en gaan nooit weer ʼn geldjie op enige weddenskap waag nie.

Volgens die sesmalige Major-kampioen het sy dobbelgewoontes sy lewe soos ʼn orkaan getref en bitter baie skade aangerig.

Danksy sy vrou, Amy, se hulp en ondersteuning kon hy egter uit dié strik loskom, sy onbeheersde dobbelary begin hanteer en uiteindelik dié gewoonte vaarwel toeroep.

Dit gaan volgens Mickelson deesdae goed met hom en hy is op die regte pad om die mens te word wat hy wil wees.

Mickelson het sy dobbelprobleme die afgelope week op die platform X met die wêreld gedeel nadat hy die laaste weke in die nuus was daaroor.

Die Ryderbeker-legende Lanny Wadkins het Mickelson vroeër vandeesmaand daarvan beskuldig dat hy dink hy is groter as die spel. Volgens Wadkins sou Mickelson waarskynlik in een of ander sloot sit en dobbel het, was dit nie vir gholf wat van hom ʼn bekende figuur gemaak en rigting aan sy lewe gegee het nie.

Wadkins het gereageer op aantygings deur die sportwedder Billy Walters dat Mickelson ʼn dobbelverslaafde is wat reusegeld op die spel verwed het.

Volgens Walters het Mickelson oor die jare sowat $100 miljoen (nagenoeg R1,9 miljard) met weddenskappe verkwis.

Walters en Mickelson was dobbelvennote en die gholfster het weddenskappe ter waarde van meer as $1 miljard (sowat R19 miljard) oor ʼn dekade aangegaan, skryf Walters in die boek Gambler: Secrets from a Life at Risk.

Die 53-jarige Mickelson het vandeesweek op die X-platform erken dat hy het verslaaf geraak aan dobbel.

Hy sê dit het sy lewe en sy verhoudinge met sy familie beïnvloed.

“Dit het nie oor geld gegaan nie. Finansieel was ons welaf.

“My aandag was egter afgelei. Ek was nie by as dit gekom het by verhoudinge met my geliefdes nie en het nie besef watter skade my optrede aanrig nie.

“Ek was in ʼn donker gat en wou nie my probleme in die oë kyk nie. Ek wou daarvan wegvlug,” skryf Mickelson.

Hy het sy volgelinge aangeraai om nie diegene wat jou na die afgrond lei as vriende te beskou nie. Dit was volgens hom een van die grootste foute wat hy gemaak het.

Volgens Mickelson ondervind hy deesdae ʼn innerlike kalmte en is daar vrede in sy lewe, maar hy is steeds op die pad na herstel.

Die LIV-gholfreeks word Vrydag voortgesit met die Rich Harvest Farms-toernooi in Sugar Grove in Illinois en Mickelson is een van die 48 deelnemers wat in aksie is.

  • Bykomende bron: BBC Sport

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.