Moolman, Norris neem voortou op St. Francisbaai

(Foto: Sunshine Tour/X)

Die Suid-Afrikaners Pieter Moolman en Shaun Norris het die eerste dag van die Europese reeks se SDC-kampioenskap in St. Francisbaai in die voortou afgesluit nadat hulle die winderige toestande die beste bemeester het.

Die 33-jarige Moolman het in die oggend gespeel, terwyl Norris deel was van die middagveld. Albei het tellings van 65 (-7) op hul telkaarte ingevul.

Die wind het heeldag gewaai, hoewel die middagspelers straks ʼn klein bietjie slegter daaraan toe was.

“Dit was uitdagend, maar ek is gelukkig met my vertoning,” het Norris agterna gesê.

Volgens Moolman kon hy nie op ʼn beter begin gehoop het nie.

“Dit was ʼn droombegin. Dit is een van my gunstelingbane en ek sien altyd uit daarna om dit te speel. Die wind het sake effens bemoeilik, maar dit was nie so erg nie,” het Moolman oor sy vertoning op die St. Francis Links-baan, ʼn skepping van die legendariese Jack Nicklaus, gesê.

Moolman én Norris het hul rondes baie goed afgeskop en ook sterk geëindig. Tussendeur het hulle net seker gemaak hulle bly op koers. Moolman het by die eerste putjie met ʼn arend twee weggespring en daarna nog twee voëltjies op sy telkaart ingevul. Norris het sy dag afgeskop met drie agtereenvolgende voëltjies.

Moolman en Norris word gejaag deur die Engelsman Daniel Brown op 66 (-6). Brown se vertoning is merkwaardig deurdat hy geen oefenronde kon speel nie omdat hy eers Woensdag laat in die Oos-Kaap aangekom het weens reisreëlings wat skeefgeloop het.

Daniel Brown kon geen oefenronde speel nie nadat sy reisreëlings skeefgeloop het. (Foto: DP World Tour/X)

ʼn Viertal van spelers deel op 67 (-5) die vierde posisie.

Een van hulle is die langslaner Wilco Nienaber, wat hopelik ʼn slag vier goeie rondes agtereenvolgens kan speel. Hy blyk gereeld gekniehalter te word deur een slegte ronde.

Op sy beste het hy al die talent in die wêreld om die boonste sport te bereik, maar hy sukkel skynbaar nog om dinge op die baan te bestuur as dit nie voor die wind gaan nie.

*In Palm Beach Gardens in Orlando in Florida is die Suid-Afrikaner Erik van Rooyen weer goed op dreef.

Die 34-jarige boorling van Bellville het ʼn puik telling van 66 houe (-5) op sy telkaart ingevul in die eerste ronde van die Cognizant Classic en beklee die gesamentlike negende posisie.

Van Rooyen is slegs twee houe agter die voorlopers, die Yank Chad Penney en die Suid-Koreaan Seong-hyeon Kim wat op -7 die pas aangee.

Die Suid-Afrikaanse gholfster het verlede week gesamentlik agtste in die Meksiko-Ope geëindig en tot dusver vanjaar sowat R16 miljoen aan prysgeld op die baan gewen.

ʼn Groep van vyf spelers, onder wie die Amerikaanse ster Cameron Young, is op -6 in die gesamentlike derde posisie.

Rory McIlroy, no. 2 op die wêreldranglys en die topspeler in die veld, en Garrick Higgo van Suid-Afrika lê gesamentlik 18de ná stewige 67’s (-4) oor hul eerste 18 putjies.

Die eerste dag se weersomstandighede was ideaal vir lae tellings, maar gure weer en sterk wind word vir die oorblywende drie rondes voorspel. Dit gaan die spelers beslis behoorlik toets.

Van Rooyen gedy egter in winderige toestande en die slegte weer wat skynbaar op pad is, kan dalk net tot sy voordeel strek in sy strewe na ʼn derde PGA-titel.

  • Bykomende inligting: Sunshine Tour, PGA Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.