Ná die opwinding van die Springbok-rugbyspan se roemryke reeksoorwinning oor die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad, het die verwagting na gholftoernooie in die Amerikaanse PGA en Europese reeks oorgespoel. Daar was nie te veel om oor huis toe te skryf nie.
In Memphis, Tennessee, is Louis Oosthuizen (199, -13) saam sewende in die St. Jude Classic-toernooi nadat hy 68 houe in die derde ronde aangeteken het. Hy het tellings van 67 en 64 houe in die eerste twee rondes op sy telkaart ingevul.
Die Amerikaner Harris English (192, -18) is met twee houe voor sy landgenoot Bryson Dechambeau en die Aussie Cameron Smith, wat albei op 194 houe geëindig het.
Hulle word in die vierde posisie deur die Mexikaan Abraham Ancer (195) gevolg, met Ian Poulter (Engeland) en Scottie Scheffler (Amerika) wat saam vyfde is op 197.
Oosthuizen het in die derde ronde soos ʼn sneltrein laat waai en drie voëltjies oor die eerste vier putjies aangeteken, maar hy het op die 12de gat ʼn hou aan baansyfer afgestaan en op 68 houe klaargemaak.
Hy slaan Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) saam met twee Amerikaners, Dustin Johnson en Will Zalatoris, en Paul Casey van Engeland (almal 199) af in die sewende posisie.
Suid-Afrika se Garrick Higgo (205, -5) is in die gesamentlike 25ste posisie met Wilco Nienaber op 220 (+10).
Die Hero-toernooi
Op St. Andrews in Skotland het drie plaaslike spelers, Calum Hill en Grant Forrest (albei 198, -18) en David Law (200), hul nekke voor gekry in die derde ronde van die Hero-toernooi.
Suid-Afrika se Justin Walters (203, -13) is saam 11de en Bryce Easton (207) is drie houe verder terug.