Oosthuizen verbrou in pylvak

Louis Oosthuizen. (Foto: Christian Petersen/Getty Images/AFP)

Louis Oosthuizen het vroeg Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) ʼn gulde kans deur sy vingers laat glip om die LIV-gholftoernooi wat in Tucson, Arizona, beslis is, te wen.

Oosthuizen was in die pylvak van die derde en laaste ronde van die tweede LIV-toernooi in vanjaar se reeks die voorloper, maar hy het op drie van die laaste paar putjies houe aan baansyfer afgestaan en sy voorsprong ingeboet.

Toe Oosthuizen op die kort 16de putjie ’n laaste hou aan baansyfer afgestaan het, het hy tot -8 teruggesak en die deur oopgemaak vir ʼn uitspeelwedstryd teen Danny Lee van Nieu-Seeland, Carlos Ortiz van Spanje en die Amerikaner Brendan Steele.

Oosthuizen het wel op die 18de putjie ʼn voëltjie aangeteken, maar saam met Lee-hulle op -9 geëindig.

Lee, wat in Korea gebore is, maar Nieu-Seeland sy tuiste gemaak het, het op die derde uitspeelputjie ʼn voëltjie aangeteken om sy eerste toernooi sedert 2015 te wen.

Oosthuizen het darem miljoene in sy sak gesteek en danksy sy goeie spel, veral in die eerste twee rondes, die Suid-Afrikaanse Stinger-span tot vierde (-16) gevoer.

Die Fireballs (-25) het gewen, gevolg deur die 4 Aces (-21) en die Iron Heads (-19).

Branden Grace (-6), Dean Burmester (gelyk aan baansyfer) en Charl Schwartzel (+8) was die ander lede van Oosthuizen se Stinger-span.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Valspar-kampioenskap wat op die Copperleaf-baan in Innisbrook beslis is, het die 29-jarige Taylor Moore van Amerika sy eerste oorwinning in 112 toernooie behaal toe hy sy landgenoot Adam Schenk met een hou geklop het.

Taylor, wat die laaste ronde in 67 houe voltooi het, het op 274 houe (-10) geëindig, met Schenk op 275 (-9).

Die Amerikaner Jordan Spieth en Tommy Fleetwood van Engeland was saam derde op 276 (-8).

Suid-Afrika se Erik van Rooyen het 67 houe in die vierde ronde aangeteken en met sy toernooitelling van 281 (-3) tot tiende opgeskuif met MF Daffue op 283 en Garrick Higgo op 288.

* By St. Francis Links in die Oos-Kaap het die 37-jarige Brit Matthew Baldwin sy eerste oorwinning in 200 toernooie behaal toe hy die SDC-kampioenskap, wat deel is van die DP World Tour, gewen het.

Baldwin (270, -18) was sewe houe voor Adri Arnaus van Spanje (277, -11), met Suid-Afrika se Jaco Ahlers, Kristian Krogh Johannessen van Noorweë, Antoine Rozner van Frankryk, Ewen Ferguson van Skotland en Jens Dantorp van Swede saam derde op 278 (-10).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.