Reën saai chaos in Limpopo en Texas

Die LIV-gholftoernooi. (Foto: Christian Petersen_/Getty Images North America/AFP)

Die twee Suid-Afrikaners Dean Burmester en Branden Grace het Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in Orlando, Florida, albei 67 houe (-4) in die eerste ronde van die LIV-gholftoernooi aangeteken, maar ondanks hul goeie rondes is hulle steeds vyf houe agter die voorloper, die Colombiaan Sebastian Muñoz (62, -9).

Muñoz se telling ewenaar die beste nog in die tweejarige bestaan van die reeks.

Hy word gevolg deur die Engelse veteraan Richard Bland (64, -7), met die Amerikaner Brooks Koepka en die Nieu-Seelander Danny Lee, wat die vorige toernooi gewen het, op 65 (-6).

Louis Oosthuizen het 70 houe (-1) aangeteken en Charl Schwartzel het op 71 houe (gelyk aan baansyfer) gevolg.

In die spanafdeling is die Suid-Afrikaanse Stinger-span (Burmester, Grace en Oosthuizen) in die sewende posisie (-9). Die Smash-span is voor (-14) gevolg deur Torgue (-13) en die Majestics (-11).

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Valero-Ope wat in San Antonio, Texas, gespeel word, is die Amerikaner Patrick Rodgers op koers na sy eerste oorwinning in die reeks nadat hy 67 houe in die reënonderbreekte tweede ronde aangeteken het.

Rodgers het op 133 houe (-11) geëindig.

Rodgers is drie houe voor Corey Connors van Kanada en Roberto Diaz van Mexiko, wat op (-8) geëindig het.

Connors het sy ronde voltooi, maar Diaz was op die tiende putjie voordat daar halt geroep is.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout is op 141 en MJ Daffue, wat op die 12de putjie was, op -3.

Garrick Higgo was op -2 en op die 15de putjie.

* In Modimolle in Limpopo het swaar reën en weerlig daartoe gelei dat die tweede dag se spel in die Limpopo-kampioenskap, wat by die Euphoria-landgoed gespeel word en deel van die Sonsynreeks is, vroeg Vrydag gekanselleer is omdat die baan onspeelbaar was.

Donderdag se eerste ronde is deur die ongure toestande opgeskort met Jaco Prinsloo en Jacques Blaauw wat die klubhuisvoorlopers op 66 (-6) was.

Hulle is gevolg deur Wynand Dingle (68).

Die eerste ronde sou Saterdagoggend om 07:30 voltooi word en die tweede ronde sou, as die weer dit toelaat, om 9:05 begin het.

* In die Amerikaanse LPGA-reeks se LA-Ope wat op die Palos Verdes-baan in Los Angeles gespeel word, loop die Chinees Ruoning Yin en Hyo-Joo Kim van Korea saam voor op 132 (-10) ná die tweede ronde.

Hulle word gevolg deur Nasa Hataoka van Japan (133, -9) met Maude-Aimee Leblanc van Kanada derde op 134 (-8).

Suid-Afrika se Paula Reto is gelyk aan baansyfer op 140 houe, maar in die 40ste posisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.