Rory aan die brand in VSA  

Rory McIlroy (Foto: Alberto Pizzoli/AFP)

Rory McIlroy was Donderdag aan die brand in die eerste ronde van die Spelerskampioenskap, maar die Noord-Ier se vuurwarm-vertoning was egter agterna onder die vergrootglas weens ʼn moontlike reëloortreding.

McIlroy het die eerste dag van die sogenaamde vyfde Major-toernooi op die TPC Sawgrass-baan in Ponte Vedra saam met Xander Schauffele en Wyndham Clark boaan die voorlopersbord afgesluit nadat al drie tellings van 65 houe (-7) aangeteken het.

Waar Schauffele ʼn foutlose vertoning van 11 syfers en sewe voëltjies opgedis het en Clark so byna perfekte gholf gespeel het met slegs ʼn enkele brouhou op sy telkaart, was McIlroy se vertoning ʼn wisselvallige een van ses syfers, tien voëltjies en drie brouhoue, waarvan een ʼn dubbele verlies op die baan se sewende putjie was.

Die viermalige Major-kampioen het sy bofhou by die putjie links in die water getrek en die posisie waar hy die balletjie daarna vir ʼn strafhou uitgegooi het, is agterna bevraagteken.

McIlroy en sy twee speelmaats, Jordan Spieth en Viktor Hovland, het lank met mekaar gepraat oor presies waar die Noord-Ier van mening was sy balletjie in die water beland het.

Die drietal het ook die hulp gevra van die televisiespan wat die aksie op die baan gevolg het, maar hulle het nie duidelike beeldmateriaal gehad nie.

McIlroy het agterna alle kontroversie verwerp en gesê hy is gemaklik met waar hy die balletjie uit die strafgebied uitgegooi het.

Hy het gesê Spieth en Hovland het net seker gemaak die reëls word korrek nagevolg, wat die regte optrede is om seker te maak niemand word benadeel nie.

“Ek is gemaklik met my optrede en glo in karma. As jy dinge verkeerd doen, kom dit terug om jou te byt,” het McIlroy oor die voorval gesê.

Die Noord-Ierse gholfster en die wêreld se no. 2-speler volgens die wêreldranglys het aan die begin van die jaar hom dit ten doel gestel om die Amerikaanse Meesterstitel te wen.

Die Meesters is die enigste van die vier Majors wat McIlroy nog nie kon wen nie.

Vandeesweek se Spelerskampioenskap is die Noord-Ier se laaste groot slypkans vir Augusta-glorie en hy sal straks nog net in een ander toernooi in aksie wees voordat die Meesters die tweede week van aanstaande maand beslis word.

Die drie voorlopers word op 66 (-6) gevolg deur die Kanadees Nick Taylor en die Engelsman Matt Fitzpatrick, wat albei voortreflik gespeel het.

ʼn Groep van sewe spelers beklee op -5 die gesamentlike sesde posisie.

Een van hulle is die wêreld se no. 1-speler, Scottie Scheffler, wat ook die verdedigende kampioen is.

Scheffler, wat verlede naweek die Arnold Palmer-toernooi gewen het, het op die baan se eerste putjie ʼn hou aan syfer afgestaan, maar daarna met drie voëltjies oor elke nege verseker dat hy van meet af stewig in die wedloop om die titel is.

Die Yank Jimmy Stanger (-5 na 16 putjies) is ook deel van die Scheffler-groep, maar moet nog sy ronde voltooi nadat spel weens swak lig gestaak is voordat al 144 spelers kon klaarmaak.

Waar McIlroy se spel soos byna altyd die meeste aandag getrek het, het die Nieu-Seelander Ryan Fox ook darem ʼn tydjie in die kollig geniet.

Die Kiwi het agtereenvolgende arende op die 16de en 17de putjies aangeteken.

Dit is die eerste keer in die Spelerskampioenskap se geskiedenis dat ʼn speler ʼn arend drie op die 16de opvolg met ʼn kolhou op die syfer drie 17de wat totaal deur water omring is.

Fox het uiteindelik 69 houe gespeel.

Christiaan Bezuidenhout in aksie (Foto: Raj Mehta/Getty Images via AFP)

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het Donderdag stewig weggespring met ʼn telling van 69 (-3).

Sy landgenote Erik van Rooyen (71) en Garrick Higgo (73) was minder suksesvol.

*Op die Royal Cape-baan in Wynberg wink ʼn tweede Sonskynreekstitel vir die Skot Kylie Henry nadat sy Donderdag haar voorsprong in die Standard Bank-Ope tot drie houe vergroot het.

Henry het die tweede ronde van die Kaapse toernooi in 71 houe (-3) voltooi en gee op ʼn totaal van 140 (-8) die pas met drie houe aan nadat sy die dag met ʼn voorsprong van twee houe begin het.

Henry, wat die eerste toernooi van die seisoen gewen het toe sy op Fancourt in die Dimension Data-pro-am koning gekraai het, het sewe voëltjies en drie brouhoue op haar telkaart ingevul om haar posisie boaan die voorlopersbord te verstewig.

Donderdag se speeltoestande was ietwat makliker as wat die geval was op dag een deurdat die wind nie so kwaai gewoed het nie.

Altesame 24 spelers het in die tweede ronde die baansyfer van 74 oortref. Net nege kon dit op die eerste dag regkry.

Kylie Henry (Foto: Simon Davies/Pro Sports Images Ltd/DPPI via AFP)

Henry het nog ʼn steil bult om te klim om haar drome van ʼn tweede titel op SA bodem te bewaarheid.

Sy word na die kroon gejaag deur Casandra Alexander en Gabrielle Venter, wat op 143 (-5) die tweede plek deel nadat albei SA sterre met puik 69’s (-5) die gaping tussen hulle en die voorloper met twee houe laat krimp het.

Sowel Alexander as Venter is vreeslose spelers wat tot baie lae tellings in staat is as hulle aan die brand is.

Die SuperSport-kampioen, Tvesa Malik van Indië, is een van drie spelers wat op -4 die vierde plek deel en nog ʼn aanspraak op die titel het sou dinge verkeerd loop vir die voorlopers.

Nog ʼn buiteperd wat steeds wendrome sal hê, is die jong Kiera Floyd.

Die 19-jarige speler van die Serengeti-klub is op 146 (-2) in die agtste posisie.

Sy het egter nog nie op al haar suiers gevuur nie en haar volgelinge sal hoop dat sy Vrydag oor die laaste 18 putjies haar beste spelpeil herwin.

Altesame 33 spelers het die afsnymerk van 151 (+3) oorleef en sal duim vashou vir goeie speeltoestande om hul talente op die land se oudste baan uit te stal.

Bykomende inligting: PGA Tour, Sunshine Ladies Tour.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.