Ryan Fox trap in pa Grant se voetspore

Nieu-Seeland se Ryan Fox vier fees by die Britse PGA-kampioenskap in Surrey, Engeland. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

ʼn Mens moet nooit die kar voor die perde span nie en dít het die Nieu-Seelander Ryan Fox Sondagmiddag op Wentworth in Surrey, Engeland, sekerlik ook gedink toe hy in die laaste ronde van die Britse PGA-kampioenskap op die sewende putjie verbrou het.

Fox het sewe houe op dié putjie op sy telkaart ingevul – maar dit het hom eerder aangespoor. En nes sy pa, Grant Fox, dit jare gelede menigmaal vir die All Blacks gedoen het toe hy die Kiwi’s se losskakel was, het Ryan ook vasgebyt en aanhou veg.

Hy het eindelik agt voëltjies ingeryg om die Engelsman Tyrrell Hatton met een hou te klop.

Hatton, wat die toernooi in 2020 gewen het, was in ʼn stadium met vier houe voor, maar het op die 15de putjie vasgeval toe hy ʼn hou aan baansyfer afgestaan het.

Fox het op 270 houe (-17) een hou voor Hatton en nog ʼn Brit, Aaron Rai (271, -16), geëindig, met die Spanjaard Jon Rahm op 272 (-16) en Viktor Hovland van Noorweë op 273 (-15).

Hovland is gevolg deur Tommy Fleetwood van Engeland (274, -14) met die Aussie Adam Scott, Callum Shinkwin van Engeland en Rory McIIroy van Noord-Ierland almal saam op 275 (-13).

Suid-Afrika se Hennie du Plessis was saam tiende op 276 (-12), met Louis de Jager (283, -5) en OIiver Bekker (286, -2) wat ook stewig in die saal was.

Zander Lombard het op 290 (+2) klaargemaak.

Die toernooi was die ideale kleedrepetisie vir die Europese Ryderbekerspan, want Hatton, Rahm, Hovland, Fleetwood, McIIroy en die jong Sweed Ludvig Åberg (276, -12) kon almal waardevol voorberei.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Fortinet-toernooi het die Amerikaner Sahith Theegala aan sy voorsprong ná die derde ronde geklou toe hy die toernooi wat in Scottsdale, Arizona, gespeel is, met twee houe gewen het.

Theegala het die laaste ronde in 68 houe voltooi en op 267 houe geëindig, wat 21 houe onder die baansyfer was.

Seong-Hyeon Kim van Suid-Korea was tweede met 269 houe (-19) gevolg deur die Aussie Cameron Davis (271, -17), die Amerikaner Eric Cole (272, -16) en sy landgenoot Justin Thomas 273 (-15).

Suid-Afrika se Erik van Rooyen het 70 houe in die laaste ronde aangeteken en saam 30ste geëindig op 281 (-7).

* In die plaaslike Sonskynreeks het Kyle Barker die Vodacom Origins se Wes-Kaapse toernooi by die Devonvale-gholflandgoed in Stellenbosch gewen toe hy Pieter Moolman in ʼn uitspeelstryd geklop het.

Barker het die laaste ronde in 65 houe voltooi om ʼn uitspeelstryd af te dwing nadat hy en Moolman albei op 203 (-10) houe geëindig het.

Moolman was met ses houe voor ná die tweede ronde toe hy afgeslaan het, terwyl Barker sewe houe agter was. Barker het eindelik 65 houe aangeteken en Moolman ʼn teleurstellende 73.

Barker het die uitspeelstryd op die 18de putjie (syfer 4) beklink toe hy ʼn voëltjie aangeteken het.

Hy het in April die Stella Artois-spelerskampioenskap gewen.

Martin Rohwer was derde (205, -8) gevolg deur Yurav Premlall en Nikhil Rama wat saam op 206 (-7) vierde was.

Hulle is gevolg deur Stefan Wears-Taylor, Gerhard Pepler, Pierre Pellegrin (Mauritius), Jake Redman, Luca Filippi en CJ du Plessis wat almal saam sesde op 207 (-6) geëindig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.