SA vrouegholf skop af

Fancourt in George. (Foto: golfbreaks.com)

Suid-Afrikaanse vrouegholf blom met ʼn rekordseisoen wat Vrydag op Fancourt in George afskop.

Die plaaslike Sonskynreeks vir vroue behels dié seisoen agt toernooie waarvan twee in oorleg met die Europese reeks aangebied word.

Spelers sal om prysgeld van meer as R20 miljoen meeding.

Daar is voorts ʼn moontlikheid van ʼn negende toernooi op die kalender einde Maart. ʼn Finale aankondiging in hierdie verband moet nog gemaak word.

Die nuwe seisoen skop Vrydag in George af met 44 plaaslike en internasionale beroepspelers wat saam met 44 amateurs op Fancourt sake sal uitspook in die Dimension Data-pro-am-toernooi.

Die vroue ding oor 54 putjies mee en sal Fancourt se skoonvelde met die Sonskynreeks se mansterre deel.

Die mans se toernooi begin reeds Donderdag en ʼn ongelooflike 312 spelers sal op die Montagu-uitleg, asook die Outeniqua-baan hul talente uitstal.

Die vrouetoernooi se glansster is die land se mees ervare geldspeler Lee-Anne Pace.

Die 42-jarige Pace spog met 23 toernooi-oorwinnings oor die hele wêreld en was ʼn dekade gelede die voorste speler in die Europese reeks.

Sy is ʼn viermalige wenner van die SA Ope en is steeds ʼn krag op die wêreld se skoonvelde ondanks gewrigsprobleme wat haar die afgelope jare geteister het.

Drie van Suid-Afrika se topspelers, Ashleigh Buhai, Casandra Alexander en Nicole Garcia, ding vandeesweek in Saoedi-Arabië se hoofstad, Riaad, mee en loop ongelukkig die openingstryd van die plaaslike seisoen mis.

Dié drie sal egter later in die seisoen in aksie wees met Buhai wat in hierdie stadium reg is om haar SA Ope-titel einde April op Erinvale te verdedig.

Pace sal sake uitspook met onder andere Nadia van der Westhuizen, Stacey Bregman, Kaleigh Taylor, Kiera Floyd, Cara Gorlei, Tandi McCallum en Lejan Lewthwaite, wat almal gerekende wenners is en weet wat dit verg om op die boonste trappie van die podium te staan.

Voorts is internasionale kampioene soos Anne-Lisa Caudal van Frankryk, Bonita Bredenhann van Namibië, Romy Meekers van Nederland en die twee Noorweegse spelers Julie Boysen Hillestad en Michelle Forsland almal ook gedugte teenstanders en sal hulle soos Pace na sukses op Fancourt smag.

Die vroue ding op Fancourt mee om prysgeld van R2,5 miljoen wat in enige geselskap ʼn baie stewige pryspot is.

Die volledige program vir vanjaar se Sonskyn-vrouereeks is (prysgeld in hakies):

Februarie

16 tot 18: Dimension Data-pro-am op Fancourt (Montagu- en Outeniqua-bane) in George (R2,5 miljoen).

21 tot 23: SuperSport-uitdaagtoernooi op Lost City-baan by Sun City (R1,3 miljoen).

Maart

6 tot 8: Sonskynreeks-uitnodigingstoernooi op die Blue Valley-gholflandgoed in Centurion (R250 000).

13 tot 15: Kaapstad-Ope op Royal Cape in Wynberg (R600 000).

April

4 tot 6: Nuwe toernooi wat nog bekendgemaak moet word. Dit sal op die Serengeti-landgoed buite Kempton Park gespeel word (R1,2 miljoen).

10 tot 12: Jabra Classic op Glendower in Edenvale (R1 miljoen).

18 tot 21: Joburg-Ope op Modderfontein in Edenvale (€300 000 – nagenoeg R6,1 miljoen).

25 tot 28: SA Ope op Erinvale-landgoed in Somerset-Wes (€320 000 – nagenoeg R6,5 miljoen).

Bykomende inligting: Sunshine Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.