Scheffler, McIlroy marsjeer voort

Rory McIlroy van Noord-Ierland. (Foto: Kevin C. Cox / Getty Images via AFP)

Scottie Scheffler en Rory McIlroy marsjeer voort in die WGC-putjiespelkampioenskap in Austin in Texas, terwyl die deur ook weer oop is vir Jon Rahm om sukses te behaal.

Scheffler het in Donderdag se tweede reeks rondomtalie-kragmetings met vyf en vier oor die Sweed Alex Noren geseëvier en baie meer op sy gemak gelyk as die vorige dag toe hy eers op die laaste putjie die oorwinning kon beklink.

Die 40-jarige Noren het by die eerste putjie ’n voëltjie behaal om die voortou te neem, maar dit was ook die laaste sukses wat hy behaal het.

Scheffler, die wêreld se topspeler, het sake by die sesde putjie gelyk gemaak en sy neus voorgekry by die sewende, ná nog ’n voëltjie.

Nadat die agtste en negende putjies gehalveer is, het die 26-jarige Scheffler eensklaps na ’n hoër rat oorgeskakel en vier agtereenvolgende voëltjies van die tiende aangeteken om ’n voorsprong van vyf op te bou.

’n Syfer deur Scheffler by die veertiende was genoeg om Noren uit te knikker.

Waar Scheffler Woensdag gesweet het, was dit Donderdag McIlroy se beurt en hy kon eers teen die einde van sy kragmeting teen Denny McCarthy die voortou neem.

McCarthy het soos ’n koelkop-veteraan weggespring en die eerste, derde en vyfde putjies ingepalm om McIlroy, no. 3 in die wêreld, op die agtervoet te dwing.

Die 33-jarige Noord-Ier het gelukkig wakker geskrik en die sewende, agtste en tiende putjies gewen om sake gelykop te maak, waarna ’n voëltjie by die sestiende hom die eerste keer laat voorloop het.

Nog ’n voëltjie by die agttiende deur McIlroy het McCarthy se lot verseël, maar die Noord-Ier sal beter moet speel as hy Sondag die trofee omhoog wil hou.

Rahm het Woensdag op verrassende wyse verloor en moes op die tweede dag ’n oorwinning behaal om tot die laaste sestien deur te dring.

Dit is toe presies wat die Spanjaard gedoen het deur Keith Mitchell met vier en drie te verslaan.

Rahm en die Yank Billy Horschel sal Vrydag sake uitspook om te bepaal wie bo-aan hul groep sal eindig en deurdring.

Die onoorwonne Horschel het Ricky Fowler Donderdag met drie en twee verslaan nadat Fowler op dag een met Rahm afgereken het.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout is met twee en een deur Kurt Kitayama verslaan.

Bezuidenhout was ná twaalf putjies met een voor, maar drie agtereenvolgende voëltjies van die dertiende af deur die Yank, het die kragmeting eensklaps in sy guns geswaai.

Buhai, Reto vertoon goed in LPGA-reeks

Suid-Afrika se twee voorste vrouespelers, Ashleigh Buhai en Paula Reto, het albei Donderdag ʼn stewige vertoning gelewer in die eerste ronde van die LPGA-reeks se Drive On-kampioenskap in Gold Canyon in Arizona.

Buhai, wat twee weke gelede op Steenberg in Tokai die SA Ope ’n vierde keer gewen het, het in ’n stadium die voortou gedeel nadat sy van die sesde putjie vyf voëltjies oor ses putjies aangeteken het.

Sy het egter daarna teenspoed opgetel en van die vyftiende af drie agtereenvolgende brouhoue op haar telkaart ingevul, maar kon haar dag met ’n voëltjie by die agttiende putjie afsluit vir ’n ronde van 69 (-3).

Reto, die heersende Kanadese Ope-kampioen, het op 68 (-4) een hou voor Buhai klaargemaak ná ’n wisselvallige dag op die baan.

In Steyn City in Midrand het die twee Suid-Afrikaners Darren Fichardt en Martin Vorster op 64 houe – agt houe minder as die baansyfer – die pas aangegee ná die eerste ronde van die Europese reeks se Jonsson Workwear Ope.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.