Sonskynreeks: Limpopo-toernooi verkort tot 54 putjies

(Foto: Sunshine Tour/Twitter)

Die son het Saterdag spreekwoordelik die eerste keer in drie dae helder op die Limpopo-gholfkampioenskap geskyn wat by die Euphoria-landgoed in Modimolle gespeel word, maar dit het die organiseerders van dié toernooi in die Sonskynreeks steeds grys hare gegee.

Die toernooi moes noodgedwonge tot 54 putjies verkort word nadat die eerste rondte weens reën en weerlig nie Donderdag afgehandel kon word nie.

Nog hewige reënbuie het Vrydag se tweede rondte onmoontlik gemaak nadat die baan oorstroom is.

Die gevolg was dat ʼn hele rits spelers eers Saterdag hul eerste rondtes voltooi het voordat hulle in die tweede rondte afgeslaan het.

Maar om 18:02 is daar halt geroep nadat dit te donker geraak het om voort te speel.

Baie spelers was nog op die baan besig met hul tweede rondets en het vroeg Sondagoggend hul rondtes voltooi voordat daar in die derde en laaste rondte afgeslaan kon word.

Neil Schietekat was Saterdagaand die klubhuisvoorloper op 136 (-9) gevolg deur Hennie du Plessis, Christiaan Burke en Ryan van Velzen, wat al drie op 137 houe (-8) geëindig het.

Jaco Prinsloo (-6) en Stephen Ferreira van Portugal was saam op -6, maar Prinsloo het slegs die sewende putjie voltooi en Ferreira was op die tiende.

* In Orlando, Florida, slaan Suid-Afrika se Charl Schwartzel in Sondag se derde en laaste rondte van die LIV-toernooi op 136 (-6) met ʼn agterstand van ses houe af agter die voorloper, die Amerikaner Brooks Koepka (130, -12).

Koepka, wat met 16 oorwinnings in sy loopbaan spog, kon volgens die LIV-webwerf nog nooit in sy tuistaat, Florida, wen nie, maar is stewig op koers daarheen.

Koepka word op 133 (-9) deur die Colombiaan Sebastian Muñoz gevolg, met Mito Perreira van Chile, Patrick Reed (Amerika) en Laurie Canter (Engeland) saam op 134 (-8).

Dean Burmester en Branden Grace van Suid-Afrika is een hou agter Schwartzel op  137 (-5), met Louis Oosthuizen op 140 (-2) in die 33ste posisie.

Die Suid-Afrikaners se Stinger-span is vyfde (-17) met die Smash-span voor op -28, gevolg deur Torque (-24), Cleeks (-21) en 4Aces (-19).

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Texas-Ope wat in San Antonio gespeel word, is die Amerikaner Patrick Rodgers (204, -12) met een hou voor Corey Connors van Kanada (205, -11), met Matt Kuchar van Amerika derde op 207 (-9).

Suid-Afrika se MJ Daffue is op 212 (-4), Christiaan Bezuidenhout op 214 (-2) en Garrick Higgo op 219 (+3).

* In die Amerikaanse LPGA-reeks is Ruoing Yin van China (199, -14) met twee houe voor Hyo-Joo Kim van Korea (201, -12) ná die derde rondte van die LA-Ope wat by Palos Verdes-buiteklub in Los Angeles gespeel word.

Hulle word gevolg deur Georgia Hall (Brittanje) op 203 (-10).

Suid-Afrika se Paula Reto, wat 75 houe in die derde rondte aangeteken het, is op  217 (+4).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.