Talle voëltjies by Joburg Ope verwag

Christiaan Bezuidenhout (Foto: YOSHI IWAMOTO/AFP)

Voëltjies by die honderde word in die vooruitsig gestel wanneer die Joburg Ope-gholftoernooi Donderdag in Houghton begin.

Dié toernooi, die eerste van die Europese reeks se nuwe seisoen en die ware begin van die Sonskynreeks se glansryke somerbeen, word deur die Stad Johannesburg ondersteun en bied ʼn totale pryspot van R17,5 miljoen aan die altesame 156 deelnemers. Die wennerstjek is sowat R2,9 miljoen.

Dit is die eerste keer dat die bekende Houghton-gholfbaan die Joburg Ope aanbied. Dié baan het van 1951 tot 1992 nie minder nie as agt keer die SA Ope aangebied, terwyl die Alfred Dunhill-kampioenskap in sy vroeë dae ook daar beslis is.

Houghton het egter van vere verander sedert daardie dae en in 2009 het die Amerikaner Jack Nicklaus die baan totaal herontwerp.

In gholfterme is dit nie ʼn baie lang baan nie en meet dit maar 6 656 m in vergelyking met ’n baan soos dié van Sun City wat meer as 7 100 m lank is. Houghton plaas egter ʼn premie op akkurate bofhoue en die setperke het baie hellings.

“Die sukkelveld se gras is nie baie lank en ruig nie, wat die deur ooplaat vir die spelers om baie voëltjies aan te teken.

“Die setperke het egter baie hellings, wat beteken dat brouhoue op die kaarte is as jy die setperk aan die verkeerde kant mis met jou naderhou,” het die Suid-Afrikaanse gholfster Christiaan Bezuidenhout na afloop van die Pro-Am-toernooi gesê.

“Ook sal ʼn premie geplaas word op die spelers se bofhoue. Die skoonvelde is nou en omsoom met reusebome, wat jou sal inperk as jy die balletjie skeef van die bof afslaan.”

Bezuidenhout, wat deesdae sy gholf in die VSA speel, is die topspeler in die veld en sy visier is gerig op ʼn ontwykende Joburg Ope-titel.

“Ek het ʼn paar keer naby aan die titel gekom, maar kon dit nie deurtrek nie. Dit was nog altyd op my lys van toernooie wat ek wil wen, so vandeesweek is ek reg om dié keer te seëvier.”

Die Presidentebekerspeler sal strawwe teenstand van onder andere sy landgenote George Coetzee, Richard Sterne, Shaun Norris, Oliver Bekker, Branden Stone en Hennie du Plessis kry.

Bekende oorsese sterre soos Gregory Bourdy en Romain Langasque, die Duitser Marcel Siem, die Skot David Drysdale en die Engelsmanne Oliver Fisher en Ross McGowan ken die Suid-Afrikaanse omstandighede en beskik almal oor die potensiaal om Sondag as kampioen gekroon te word.

Volgens Coetzee, wat drie weke gelede die PGA-titel op St. Francis ingeoes het, is die Houghton-baan in ʼn skitterende toestand.

“Die baan is pragtig en perfek. Ek dink almal sal baie gelukkig wees,” sê die 2014-kampioen.

Die eerste spelers slaan Donderdagoggend om 06:20 af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.