Tiger al weer beseer

Tiger Woods (Foto: Paul Faith / AFP)

Tiger Woods se terugkeer na die gholfbaan is op ys.

Die 46-jarige Yank het hom Maandag weens ’n besering onttrek aan die Hero-uitdaagtoernooi, wat van Donderdag tot Sondag by die eksklusiewe Albany-gholfoord in die Bahamas gespeel word.

Altesame sestien van die toptwintigspelers op die wêreldranglys is in die elite‑veld vir die toernooi, wat jaarliks in Desember deur Woods aangebied word.

Woods het op Twitter aangekondig dat hy plantar fasciitis in sy regtervoet het. Dit is inflammasie van die sagte weefsel wat die hakbeen en tone heg.

Volgens betroubare inligting het Woods die laaste weke so hard soos ooit geoefen om vir vandeesweek se Hero-toernooi gereed te wees. Hy het in die proses sy voet ooreis en sukkel nou om te loop.

Woods het in Februarie verlede jaar byna sy regtervoet in ’n motorongeluk verloor. Hy het egter ’n merkwaardige herstel gemaak en vroeër vanjaar in die gesogte Amerikaanse Meesters-toernooi gespeel en selfs die valbyl oorleef.

Hy het daarna ook in die Amerikaanse PGA- en Britse Ope-toernooie meegeding voordat hy ’n onbepaalde blaaskans geneem het in ’n poging om sy regterbeen sterker te maak sodat hy met minder ongemak kan loop.

Die gholflegende het ’n paar weke gelede sy terugkeer tot die baan aangekondig en liefhebbers van die spel was oorstelp dat hulle Woods vandeesweek in die Bahamas in aksie sou sien in die Hero-toernooi wat hy reeds vyf keer gewen het.

Volgens Woods is hy nog van plan om aanstaande naweek saam met Rory McIlroy in die The Match-vertoonkragmeting vir liefdadigheid teen Justin Thomas en Jordan Spieth te speel.

Woods is die daaropvolgende naweek geskeduleer om saam met sy seun, Charlie, in die PNC-toernooi vir Major-kampioene en familielede te speel. Hulle het verlede jaar tweede in dié toernooi geëindig.

Woods kan in dié twee toernooie ’n gholfkarretjie gebruik om oor die weg te kom en hy hoef nie te stap soos in ’n toernooi wat deur die Amerikaanse PGA-reeks onderskryf word nie.

Woods sal steeds vandeesweek in die Bahamas wees om sy pligte as gasheer van die Hero-toernooi na te kom. Hy hou Dinsdagmiddag ’n mediakonferensie om die uitsoekveld vir die toernooi te verwelkom en uiteraard ook meer duidelikheid oor sy jongste besering te gee.

Die volledige lys van die twintig deelnemers aan die Hero-uitdaagtoernooi met hul posisies op die wêreldranglys tussen hakies, is:

Scottie Scheffler (2)

John Rahm (5)

Xander Schauffele (6)

Justin Thomas (8)

Matt Fitzpatrick (9)

Collin Morikawa (10)

Tony Finau (11)

Viktor Hovland (12)

Sam Burns (13)

Jordan Spieth (14)

Tom Kim (15)

Max Homa (16)

Billy Horschel (17)

Cameron Young (18)

Hideki Matsuyama (19)

Shane Lowry (20)

Sungjae Im (21)

Tommy Fleetwood (23)

Sepp Straka (29)

Kevin Kirsner (31).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Ai, dis jammer. Hy moet dalk Shaik en Zuma se dokters kom raadpleeg. Hulle genees terminale gevalle met groot welslae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.