Torque stamp SA se Stingers uit LIV-toernooi

Die Suid-Afrikaanse Stingers-gholfspan in Doral, Miami. (Foto: Verskaf/Stringer)

Die Suid-Afrikaanse Stingers-gholfspan kon nie Saterdagaand in Doral, Miami, voortbou op die vertonings van die Springbok-rugbyspan in Frankryk of die krieketspan in Indië nie, wat albei oorwinnings oor Engeland behaal het.

Die Stingers is in die halfeindronde van die laaste LIV-spantoernooi met 3-0 deur Torque geklop.

Torque, 4Aces, Crushers en die RangeGoats ding Sondagaand in die eindstryd mee.

In Saterdagaand se halfeindronde is Louis Oosthuizen met 2&1 deur Joaquin Niemann geklop, Sebastian Munóz het Branden Grace met 7&6 verslaan en Mito Perreira en David Puig het Dean Burmester en Charl Schwartzel met twee voor geklop.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Zozo-kampioenskap wat by die Narashino-buiteklub in Chibu, Japan, beslis word, het die Amerikaner Collin Morikawa die toernooi met ses houe gewen.

Morikawa, wat 63 houe in Sondagoggend se laaste ronde aangeteken het, het op 266 (-14) geëindig.

Dit was ses houe beter as dié van sy landgenote Eric Cole en Beau Hossler (albei 272, -8), met nog ʼn Amerikaner, Robby Shelton, en Roy Ishikawa van Japan saam vierde op 273 (-7).

* In die Europese reeks en DP World Tour se Andalusiese Ope wat in Valderama in Spanje beslis word, het Suid-Afrika se Louis de Jager in die derde ronde teruggesak.

De Jager, wat ná die tweede ronde voor was, het 72 houe aangeteken en het op 207 houe (-9) in die klubhuis geëindig.

Jeff Winther van Denemarke en Matthias Schmid van Duitsland is nou saam voor op 202 (-14).

Hulle is twee houe voor Adrian Otaegui van Spanje (204, -12), gevolg deur Jeong-Weon Ko van Frankryk (205, -11).

Nog ʼn Duitser, Nick Bachem, asook Adrian Meronk (Pole) en Richard Mansell (Engeland) is saam op 206 (-10).

Van die ander Suid-Afrikaners is Zander Lombard en Thriston Lawrence saam op 212, met Deon Germishuys, wat 79 houe in die derde ronde aangeteken het, op 221 (+5).

* In die plaaslike Sonskynreeks se Vodacom Origins of Golf-toernooi wat by die Wildekus gespeel word, moes daar in Saterdag se tweede ronde halt geroep word nadat ʼn stormsterk wind ʼn hewige donderstorm ingewaai het.

Hennie O’Kennedy was die voorloper op twee houe onder baansyfer toe hy op die 16de putjie was.

ʼn Hele paar spelers kon darem hul rondes voltooi, soos Ruan de Smidt (70), Ethan Smith (68), Haydn Porteus (68) en Conner Mackenzie (66), wat almal saam met Trevor Fisher (jr.) tweede op een hou onder baansyfer was.

Fisher het die 12de putjie voltooi toe spel opgeskort is en sal vroeg Sondagoggend saam met O’Kennedy en ʼn hele paar ander spelers eers hul tweede rondes moet voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.