Van Rooyen speel tweede viool, glimlag steeds breed

Suid-Afrika se Erik van Rooyen. (Foto: PGA Tour/X)

Die Suid-Afrikaanse gholfster Erik van Rooyen moes toe Maandag tweede viool speel in die Cognizant Classic in Florida, maar het miljoene redes gehad om steeds breed te glimlag.

Van Rooyen het uiteindelik gesamentlik tweede geëindig in die Palm Beach Gardens-toernooi wat Sondag weens gure weer nie voltooi kon word nie en eers laat Maandagoggend Amerikaanse tyd tot ʼn einde geloop het. Sy beloning vir sy goeie spel was ʼn yslike R15,2 miljoen aan prysgeld, wat beslis die pyn van sy strooijonkerstatus effens sou verlig het.

Die 34-jarige boorling van Bellville het reeds Sondag sy aanslag op die titel voltooi met ʼn uitmuntende telling van 63 houe (-8) vir ʼn totaal van 270 (-14).

Was dit nie vir ʼn onderbreking van amper vier uur wat Van Rooyen se momentum gestuit het nie, kon hy straks nog beter vertoon het. Hy het sy dag Sondag met ses agtereenvolgende voëltjies afgeskop waarna ʼn sewende een op die agtste putjie hom in 28 houe laat draai het.

Die Suid-Afrikaner was ná elf putjies agt houe onder syfer toe die slegte weer sy kop uitgesteek en spel vir ure vertraag het. Met sy terugkeer na die baan was Van Rooyen se korrel nie meer sekuur nie en hy kon nie verder op sy telling verbeter nie. Hy was lank die klubhuisvoorloper totdat die Yank Austin Eckroat op -15 sy neus net-net voor hom gekry het voordat spel Sondagmiddag weens swak lig gestaak is.

Eckroat moes Maandag elf putjies speel en hy het twee verdere voëltjies op sy telkaart ingevul om sy posisie boaan die voorlopersbord te verstewig. Hy het uiteindelik op 267 (-17) klaargemaak ná ʼn 67 oor die laaste agttien putjies en Van Rooyen en die Aussie Min Woo Lee (67) met drie houe na die kroon gesteek.

Verlede week se kampioen in Mexiko, Jake Knapp, het weer uitgemunt en gesamentlik vierde geëindig.

Van Rooyen se landgenoot Garrick Higgo was sestiende op -11 en is R2,6 miljoen ryker.

*Die laat afhandeling van die Cognizant Classic het die mees uitgelese Pro-Am-toernooi in Amerika in die wiele gery. Die Seminole Pro-Member-toernooi is Maandagoggend en -middag in Juno Beach in Florida beslis, maar spelers soos Cameron Young, Ricky Fowler en Shane Lowry kon nie hul afslaantye haal nie omdat hulle eers moes klaarmaak in die Cognizant Classic.

Van Rooyen moes ook teenwoordig wees tot die einde indien Eckroat sou struikel.

Die Seminole-gholfklub is soos Augusta ʼn geslote klub en lidmaatskap is slegs op uitnodiging. Die klub het glo sowat 50 miljardêrs as lede en hulle nooi jaarliks ʼn aantal PGA-beroepspelers en ander topsportmanne vir ʼn Pro-Am-gholfdag ten bate van liefdadigheid.

Tiger Woods het Maandag die eerste keer in die toernooi gespeel, terwyl Rory McIlroy, Justin Thomas en Nelly Korda, asook die legendariese voetbalspeler Tom Brady hul talente op die eksklusiewe gholfbaan uitgestal het.

Ernie Els was ook een van die uitgelese gaste en het saam met Suid-Afrika se rykste sakeman, Johann Rupert, in ʼn vierbal gespeel.

*Ná ʼn blaaskans van ʼn week hervat die Sonskynreeks vir vroue Woensdag op die Blue Valley-gholflandgoed buite Centurion wanneer die Fidelity ADT-uitdaagtoernooi beslis word.

In die afwesigheid van Lee-Anne Pace sal Stacy Bregman, Kiera Floyd en Lejan Lewthwaite die Suid-Afrikaanse vaandel dra. Die wenners van die eerste twee Sonskyn-toernooie, Kylie Henry en Tvesa Malik, tel albei onder vandeesweek se deelnemers.

*Die mans is van Donderdag af op Glendower in aksie wanneer die Jonsson Workwear-Ope in Edenvale gespeel word. Hierdie toernooi vorm deel van die DP World-reeks en het ʼn algehele pryspot van amper R30 miljoen.

  • Bykomende bron: PGA Tour

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.