Van Velzen beur steeds voort

Die 22-jarige Ryan van Velzen het Sondagmiddag op die Maccauvleibaan in Vereeniging sy derde titel in tien maande in die Sonskynreeks beklink. (Foto: Sunshine Tour/X)

Die 22-jarige Ryan van Velzen het Sondagmiddag op die Maccauvleibaan in Vereeniging sy derde titel in tien maande in die Sonskynreeks beklink toe hy die Mediclinic-uitnodigingstoernooi met vier houe gewen het.

Van Velzen, wat die laaste ronde in 64 houe voltooi het, het op 263 geëindig, wat 25 houe onder die baansyfer is.

Niel Schietekat was tweede op 267 (-21) gevolg deur LB Boshoff, Jason Roets, Jovan Rebula, Dylan Mostert en Yuvrav Premlall was almal saam derde op 270 (-18).

Van Velzen se oorwinning volg op sy sukses in die Limpopo-kampioenskap en die Bain’s Whisky Ubunye-spankampioenskap, terwyl hy tweede was in die Suid-Afrikaanse Ope.

Hy het gesê sy oorwinning was ʼn verrassing, aangesien hy ʼn maand lank op vakansie was.

“Ek kan dit eintlik nie verduidelik nie. Ek het die bal baie goed geslaan en nie enige skoonveld gemis nie. Voor die laaste ronde het ek en my joggie ʼn teiken van 25 houe onder baansyfer gestel om te wen,” het Van Velzen in sy wennersonderhoud gesê.

Hy het tellings van 66, 69, 64 en 64 aangeteken.

* In die DP World Tour se Ras Al Khamaih-kampioenskap wat by die Al Hamra-buiteklub beslis is, het Suid-Afrika se Brandon Stone vierde geëindig nadat hy die vierde en laaste ronde in 70 houe voltooi het.

Dit was ʼn goue Sondag vir Denemarke, want Thorbjorn Olesen het die toernooi met ses houe gewen (261, -27), terwyl sy landgenoot Rasmus Hojgaard tweede was op 267 (-21).

Die Fransman Frederic Lacroix was derde (268, -20) gevolg deur Stone, Maxmillian Kiefer en Yannik Paul (albei van Duitsland), Keita Nakajima (Japan) en Callum Shinkwin (England) saam vierde op 271 (-17).

Zander Lombard was saam 13de op 273 (-15) met die ander Suid-Afrikaners Louis de Jager (275, -13), Jayden Schaper (276, -12), Jaco Prinsloo (278, -10) Hennie du Plessis (279, -9) en Dylan Frittelli (286, -2) wat in ook die wedloop was.

* In die Amerikaanse LPGA se Drive On-kampioenskap wat by die Bradenton-buiteklub in Florida gespeel is, het die Amerikaner Nelly Korda ʼn uitspeelstryd teen Lydia Ko van Nieu-Seeland gewen nadat albei op 273 houe (-11) geëindig het.

Korda, wat as die voorloper in die laaste ronde afgeslaan het, het in die laaste ronde gesukkel en 73 houe aangeteken terwyl Ko 69 houe behaal het.

Korda was met slegs twee putjies oor nog twee houe agter Ko, maar sy het met ʼn arend op die 17de en ʼn voëltjie op die 18de die deur vir die uitspeelstryd oopgeskop.

Albei spelers het die eerste uitspeelputjie in baansyfer voltooi, maar Ko het op die tweede uitspeelputjie ʼn sethou verbrou om aan Korda haar negende LPGA-titel te besorg.

Die Amerikaner Megan Khang (276, -8) was derde, met Ayake Furue van Japan en Lucy Li (Amerika) saam vierde.

  • Bronne: Sonskynreeks en The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.