Vuurwerk verwag in 87ste Meesters-stryd

Charl Schwartzel in aksie by die Zurich Classic-toernooi. (Foto: Mike Ehrmann/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die Amerikaanse Meesters op Augusta word allerweë gereken as die gesogste gholftoernooi op die kalender en lewer jaarliks groot drama en opwinding.

Vanjaar se toernooi beloof om verskeie redes moontlik ongekende drama en opwinding. Die 88 spelers tree Donderdagmiddag (Suid-Afrikaanse tyd) aan om hul aanslae op vanjaar se eerste Major-titel te begin.

Die deelname van die 18 spelers wat verlede jaar die rug op die PGA-reeks gekeer en hulle by die omstrede LIV-reeks aangesluit het, sal veral by die 87ste Meesters-stryd aandag trek.

Onder die 18 tel ses gewese kampioene wat weet wat dit verg om met die room van die wêreld se spelers af te reken en die groen baadjie as kampioen oor die skouers te trek. Hulle is Dustin Johnson, Phil Mickelson, Sergio Garcia, Patrick Reed, Bubba Watson en Suid-Afrika se Charl Schwartzel.

is een van drie Suid-Afrikaanse spelers in die uitsoekveld. Die ander twee is Louis Oosthuizen en die Britse amateur-kampioen Aldrich Potgieter.

Nog net drie Suid-Afrikaners het al dié gesogte toernooi gewen: Gary Player (1961, 1974 en 1978), Trevor Immelman (2009) en Schwartzel (2011).

Potgieter is maar 18 jaar oud en dit gaan ʼn reusevuurdoop wees vir die jong man van Mosselbaai.

Oosthuizen, die wenner van die Britse Ope in 2010, is soos Schwartzel deesdae ʼn LIV-speler wat voor sy skuif na Greg Norman se Saoedi-Arabiese gefinansierde reeks as een van die wêreld se bestes beskou is.

Daar hang egter ʼn groot vraagteken oor deelnemende LIV-spelers se spelpeil, aangesien hulle in die laaste sowat tien maande in skaars ʼn dosyn toernooie gespeel het.

Wat egter ʼn gegewe is, is dat al die LIV-spelers oor die talente beskik om Sondag as kampioen gekroon te word. Dit het hulle almal oor die jare al by verskeie geleenthede op menigte van die wêreld se gholfbane gewys.

Ondanks die troebel verhouding tussen die PGA- en LIV-reeks is die spelers van die nuwe reeks die afgelope paar dae hartlik op Augusta verwelkom.

Volgens die wêreld se topdrie-spelers, Scottie Scheffler, Rory McIlroy en Jon Rahm, koester hulle geen kwade gevoelens jeens die LIV-spelers nie en is hulle op Augusta om gholf te speel en vir niks anders nie.

“Ek is hier om myself te geniet en die beste vertoning te lewer wat ek kan. As dit goed genoeg is om te seëvier, sal ek in my noppies wees,” het Scheffler, verlede jaar se kampioen, gesê.

Rahm steur hom ook nie aan die teenwoordigheid van die LIV-spelers nie en sê hy wil graag in die spore van sy landgenote Severiano Ballesteros, Jose Maria Olazabal en Garcia volg wat al sukses op die magiese Augusta-baan gesmaak het.

“Ek speel tot dusver vanjaar goeie gholf en hoop ek kan vandeesweek daardie spelpeil handhaaf,” het Rahm gesê. Hy het hierdie seisoen reeds drie keer in die Amerikaanse PGA-reeks geseëvier.

McIlroy is op soek na ʼn Meesters-titel om die Grand Slam van al vier Major-titels te voltooi.

“Ja, dit is my doelwit en ek voel vanjaar slaggereed om dit reg te kry. Maar Scottie en Jon, asook heelparty ander spelers, is goed op dreef en dit sal nie maklik wees nie,” Het McIlroy oor sy wenkanse gesê.

Die Noord-Ier het ook gewaarsku dat gholf se goue seun, Tiger Woods, nie onderskat moet word nie. Hy het Maandag saam met die Yank geoefen en eerstehands gesien dat Tiger geen van sy talente verloor het nie. Woods het dié toernooi al vyf keer gewen.

“Hy slaan die balletjie net so goed soos in die ou dae. Niemand sal Sondag oor die laaste nege putjies gerus wees as Tiger ook in die wedloop is nie.”

Woods, ʼn 15-malige Major-kampioen, het egter nie dieselfde verwagtinge nie.

“My spelpeil is beter as verlede jaar, maar ek het meer pyn in my been as toe. Ek weet nie hoeveel langer ek kan aanhou probeer om op die hoogste vlak te speel nie,” het Woods gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.