Wind bring Henry nie van stryk

Kylie Henry (Foto: Simon Davies/Pro Sports Images Ltd/DPPI via AFP)

Die Skot Kylie Henry is gewoond aan wind in die ergste graad.

Daarom het sy haar nie Woensdag enigsins van stryk laat bring nie toe die berugte Kaapse Dokter speeltoestande bemoeilik het op die eerste dag van die Standard Bank-Ope vir vroue op die Royal Cape-gholfbaan.

Die 37-jarige boorling van Glasgow het in uitdagende winderige omstandighede ʼn telling van 69 houe (-5) op Afrika se oudste gholfbaan aangeteken om dag een van die Sonskynreeks se vierde toernooi boaan die voorlopersbord af te sluit.

“Gelukkig het ek baie ondervinding van wind in die ergste graad en het dit my nie gehinder nie.

“Die Royal Cape-baan is ʼn strawwe toets wat nog moeiliker is as die wind erg waai. Ek het egter kopgehou en my nie van stryk laat bring deur die wind wat al hoe sterker teen die einde gewaai het nie,” het Henry ná afloop van haar vertoning gesê wat aan haar ʼn voorsprong van twee houe gegee het.

Die Skot, wat in 2014 twee keer in die Europese reeks geseëvier het en verlede maand ná ʼn wendroogte van tien jaar weer na die wennerskampie teruggekeer het met haar sege op Fancourt in die Dimension Data-Pro-am, was Woensdagoggend vinnig uit die wegspringblokke.

Sy het ʼn arend drie by die elfde putjie (haar tweede putjie) aangeteken waarna voëltjies op die baan se dertiende en sestiende putjies haar in 33 houe (-4) laat draai het.

Oor haar tweede nege het Henry oënskynlik momentum verloor en sy kon net twee verdere voëltjies aanteken saam met ʼn brouhou vir ʼn telling van 36 (-1) en ʼn totaal van 69.

“Ek het alles goed gedoen. My naderhoue met my ysters was sekuur en ek het puik op die setperke vertoon. My bofhoue was ook goed gewees.

“Maar uiteindelik was my ondervinding van hoe om in die wind te speel straks my grootste voordeel. Dit is nie altyd maklik om kalm te bly as die wind in jou ore suis nie,” het Henry agterna gesê.

Die voorloper op die Sonskynreeks se verdienstelys word gejaag deur die geldspeler van die Parys-gholfklub, Shawnelle de Lange (71), met die Gautenger Lora Assad op 72 (-2) in die derde plek.

Die tienerster van die Serengeti-klub, Kiera Floyd, en Tvesa Malik van Indië is twee van ses spelers wat op 73 houe (-1) die vierde plek deel.

Suid-Afrika se Europese ster Casandra Alexander deel op 74 (gelyk aan baansyfer) die tiende plek.

Haar landgenoot wat saam met haar in Europa meeding, Nicole Garcia, sou nie gelukkig gewees het met haar vertoning van 75 houe (+1) nie.

So ook nie die gerekende Stacy Bregman (77) en die duo van Tandi McCallum en Lejan Lewthwaite, wat albei teleurgestel het met rondes van 78.

Die Standard Bank-Ope word onderskryf deur die Stad Kaapstad en die stadsvaders sal duim vashou dat die wind die laaste twee dae nie so erg sy tande wys nie.

Slegs nege van die altesame 64 deelnemers kon die baansyfer van 74 oortref en die bitter lastige wind het die meerderheid van die spelers met hul hande in die hare gelaat oor hoe om dinge op die baan op koers te hou.

As die wind aanhou woed, sal Henry moeilik gestuit word. Sy ry op die kruin van die golf ná haar Oos-Kaapse sege en nog ʼn oorwinning sal die kersie op die koek wees in haar strewe om weer op die groot verhoog te presteer.

Bykomende inligting: Sunshine Ladies Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.