Yslike betaaldag vir Louis, Charl

louis oosthuizen

ʼn Mens kon nie Sondag die glimlagte op die gesigte van Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel afvee nie, want op die lowergroen Royal Greens-baan in die woestyn in Djeddah in Saoedi-Arabië was hulle saam tweede in die LIV-toernooi. (Foto Stinger GC/X)

ʼn Mens kon nie Sondag die glimlagte op die gesigte van Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel afvee nie, want op die lowergroen Royal Greens-baan in die woestyn in Djeddah in Saoedi-Arabië was hulle saam tweede in die LIV-toernooi.

Die toernooi is deur die Chileen Joaquin Niemann gewen wat die drie rondes in 193 houe (-17) voltooi het.

Sy wentelling was vier houe beter as dié van Oosthuizen-hulle (197, -13) met die Amerikaner Bryson DeChambeau vierde op 198 (-12) en die Spanjaard Jon Rahm vyfde op 199 (-11).

Branden Grace en Dean Burmester (albei 203, -7) het ook daartoe bygedra dat die Suid-Afrikaanse Stinger-span tweede (-34) agter die Crushers (-38) geëindig het.

Dit was weer ʼn baie groot betaaldag vir die Suid-Afrikaners, want Oosthuizen en Schwartzel het albei sowat R35,8 miljoen gewen en Grace en Burmester albei sowat R5,5 miljoen.

Dan het die Stinger-span met sy tweede plek ʼn verdere R29 miljoen verdien.

Glad nie te versmaai vir drie rondes gholf nie!

* Dit is nie net in Suid-Afrika waar ʼn paar gholftoernooie en rugbywedstryde dié naweek onder swaar reën en weerlig deurgeloop het nie, want by Palm Beach in Florida word die vierde en laaste ronde van die Cognizant Classic-gholftoernooi eers Maandag afgehandel.

Die Amerikaner Austin Eckroat was ná sewe putjies in die vierde ronde die voorloper op 15 houe onder die baansyfer in dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks.

Die laaste ronde is opgeskort nadat swaar reën van meer as 50 mm binne twee uur oor die baan uitgesak het en die spelers skuiling moes gaan soek het.

Eckroat was een hou voor Suid-Afrika se Erik van Rooyen, wat vroeg afgeslaan het en die laaste ronde in 63 houe voltooi het.

Van Rooyen was die klubhuisvoorloper op 270 houe (-14) en in die tweede posisie.

Hy is gevolg deur die Amerikaner Jake Knapp, die eertydse uitsmyter wat die onlangse Meksiko-Ope gewen het, op -13, met sy landgenote Keith Mitchell, Billy Horschel, Alexander Noren (Swede) en Shane Lowry (Ierland) wat almal saam op -12 is en nog nie die tweede nege voltooi het nie.

* Op die St. Francis-linksbaan in die Oos-Kaap het die Amerikaner Jordan Gumberg die SDC-kampioenskap gewen wat deel is van die Dubai World Tour (Europese reeks).

Gumberg, wat nog nie voorheen in die reeks kon wen nie, het die laaste ronde in 68 houe voltooi. Hy het saam met Suid-Afrika se Robin Williams op 277 houe (-12) geëindig.

Williams was op die 17de putjie nog met twee houe voor, maar hy het twee houe aan baansyfer afgestaan en sy kanse beduiwel. Gumberg het die uitspeelstryd op die tweede uitspeelputjie beklink.

Die Fransman David Ravetto was derde op 278 (-10), gevolg deur Connor Syme van Skotland en Andy Sullivan, Daniel Brown en Marcus Armitage (almal van Engeland), Nick Bachem van Duitsland en Jamie Donaldson van Wallis, wat saam vierde was op 280 (-8).

Jbé Kruger en Thriston Lawrence het die Suid-Afrikaanse vlag in die reën laat wapper toe hulle saam tiende was op 281 (-7).

Van die ander Suid-Afrikaners was Casey Jarvis op 282, met Thomas Aiken en Keenan Davidse saam op 283. Daniel van Tonder (284) is gevolg deur Shaun Norris, Wilco Nienaber, Nikhil Rama en Louis de Jager (almal 285).

* In die Wêreldkampioenskap-toernooi vir vroue wat op die Sentosa-baan in Singapoer beslis is, het die Australiër Hannah Green (275, -13) met die louere weggestap.

Sy het een hou beter gevaar as Celine Boutier van Frankryk (276, -12), met Mi-Hayng Lee van Suid-Korea, Nasa Hataoka en Yuna Nishimura (albei van Japan) en Brooke Henderson van Kanada saam derde op 279 (-9).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.