Zander loop voor in VAE

Die Suid-Afrikaner Zander Lombard in 2018. (Foto: Andy BUCHANAN / AFP)

Die Suid-Afrikaner Zander Lombard (-16) slaan vanoggend (10:40 Suid-Afrikaanse tyd) af as die voorloper by die Ras Al Khaimah-kampioenskap op die DP World-toer.

Hy het na die derde ronde ʼn voorsprong van een hou nadat hy die baan in die Verenigde Arabiese Emirate gister aan die brand gespeel het. Lombard het ʼn foutlose 63 op sy telkaart ingevul. Dit het nege voëltjies ingesluit. Hy is een hou voor die Deen Rasmus Højgaard (-15).

Nog ʼn Suid-Afrikaner, George Coetzee (-6), het sy kanse verspeel na ʼn teleurstellende 74 in die derde ronde. Hy het vier brouhoue en twee voëltjies aangeteken.

By die Bain’s Whisky Kaapstad-ope op die baan van die Royal Cape-gholfklub loop die Suid-Afrikaner Darren Fichardt en Zimbabwe se Benjamin Follett-Smith voor.

Fichardt het sy derde ronde in net 62 houe voltooi om die baanrekord te ewenaar. Hy het voëltjies aangeteken op elkeen van sy eerste sewe putjies van die dag. Die Suid-Afrikaner Dylan Mostert (-12) is een hou agter die voorlopers.

Die Suid-Afrikaner MJ Daffue (-4) is in die gesamentlike 29ste plek by die AT&T Pebble Beach Pro-Am op die Amerikaanse PGA-toer. Hy moet nog sewe putjies van sy derde ronde voltooi nadat gure weer spel ontwrig het. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Garrick Higgo (-3), moet ook nog sewe putjies voltooi.

Die voorloper van die toernooi is die Amerikaner Peter Malnati (-12). Hy sal sy derde ronde vandag op die 12de putjie voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.