19 jaar ná Hansie se dood

Hansie Cronje. Argieffoto.

Vandag, 1 Junie 2021, is presies 19 jaar ná Hansie Cronjé se noodlottige vliegtuigongeluk naby George. Sy broer, die bekende filmregisseur Frans, het op sosiale media hulde aan hom gebring.

“Ek sien uit na die dag wanneer ons weer in die hemel herenig is. Maar tot dan, mag ons almal geïnspireer wees om ’n verskil hier op aarde te maak, net soos wat Hansie en soveel ander groot leiers gemaak het,” het Frans geskryf.

Hoewel Cronjé later in sy loopbaan weens sy beweerde betrokkenheid by wedstrydknoeiery lewenslank uit krieket geskors is, is baie Suid-Afrikaners steeds trots op sy krieketprestasies – veral skoolspelers in die 1990’s.

Stephan Myburgh was in sy skooldae een van Suid-Afrika se blinkste jong krieketsterre. In sy o.11-jaar was hy die onderkaptein van ’n Noord-Gauteng-krieketspan wat met Faf du Plessis en AB de Villiers in sy geledere gespog het.

Foto: Yoav Lemmer/AFP/

Deesdae lewer die 37-jarige kolwer gereeld goeie vertonings vir Nederland se nasionale krieketspan; hy het onder meer een van die vinnigste T20-vyftigtalle ooit teen die Proteas gemoker.

“Hansie is vir my ’n ware legende en een van die groot redes waarom ek van ’n jong ouderdom af so lief was vir krieket,” het Myburgh gesê.

“Ek was bevoorreg om op SuperSportpark saam met Hansie ’n advertensie vir Capri-Sun te maak wat dan elke Saterdag op televisie gewys het. Ek het steeds my foto en getekende pet van Hansie.”

As die leier van die nasionale krieketspan was Cronjé amper sonder weerga, maar dit was in sy vennootskap met wyle Bob Woolmer waar hy naam as ’n avontuurlustige en talentvolle kaptein gemaak het.

Woolmer het aangevoer dat Cronjé die beste kaptein was saam met wie hy gewerk het.

“Hansie was ’n ware leier en die span sou enigiets vir hom gedoen het. Hy was ’n man wat vir groot dinge bestem was en ek gaan hom ongelooflik mis,” het Woolmer destyds in ’n huldeblyk aan Cricinfo gesê.

Allan Donald was ook beïndruk met die wyse waarop Cronjé moeilike situasies hanteer het; veral gedurende die toer in 1998 na Engeland toe die skeidsregters vir ’n nagmerrie-reeks gesorg het.

Foto: Anna Zieminski/AFP.

Die voormalige Protea-snelbouler het in sy outobiografie, Die Wit Blits, sy waardering uitgespreek vir die diplomatiese wyse waarop Cronjé vrae oor die skeidsregters se vertonings beantwoord het.

“Hansie het in gedagte gehou dat ons nie goed genoeg gespeel het nie en dat die skeidsregterbeslissings dalk nie so deurslaggewend was nie. Ek was trots op sy waardige reaksie, want ek kan aan sommige internasionale kapteins dink wat pens en pootjies sou ingeklim het,” het Donald geskryf.

Talentvol, maar bloot ’n mens. Hoewel sy krieketloopbaan skielik tot ’n einde gekom het, is hy steeds een van Suid-Afrika se suksesvolste krieketkapteins ooit.

En soos Myburgh sê, hy was een van die min spelers ter wêreld wat vir Shane Warne kon ore aansit.

  • Cronjé het ’n kolfgemiddeld van 36,41 in toetskrieket en 38,64 in eendagkrieket gehandhaaf.
  • Onder sy leiding het die Proteas net 11 van die 53 Cronjé-toetse verloor, terwyl hulle in 99 van sy 138 eendagwedstryde aan die wenkant was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anton ·

Wat ‘n tragiese verlies. Hansie kon na krieket nog betekenisvolle bydrae gelewer het. Steeds ‘n held van my ????

Driekus ·

Kan nie dink dat enige “lewende Krieket Held” vandag hierdie man se skoene kan vol staan op ‘n krieket veld nie en hy is al lankal weg geneem. Was voorwaardelik ‘n legende en as mens nou 19 jaar later steeds elke jaar Junie sy fotos en posts van hom sien, dan besef mens eers werklik hoe bevoorregd ons as SA’ners was en is om so ‘n sportheld en Protea Kaptein te gehad het. RIP

Andre ·

Het soveel respek gehad vir die jong man maar bitter teleurgesteld in wat hy gedoen het want hy was die laaste van wie dit verwag kon word

koos ·

Stephan Myburgh kolf fluks vir Nederland se nasionale span want hier was sy vel sekerlik te wit?

david ·

Ek sal nooit vergeet hoe Ali Bacher destyds vir Hansie veroordeel het nie…..en die Aussies wat ook gesondig het , het net ‘n tikkie op die gewrig gekry…..
Iemand het my eenmaal vertel dat in die Wanderers Klub, hang fotos van al SA se krieketkapteins teen ‘n muur.maar Hansie se gesig ontbreek…
Kan iemand dit dalk bevestig…..?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.