AB en Danielle verwelkom klein Yente

AB en Danielle de Villiers saam met Yente. Foto: Instagram.

Een van die wêreld se gevaarlikste kolwers, AB de Villiers, het vroeër vandeesmaand vir die derde keer pa geword.

Klein Yente de Villiers is op 11 November gebore en die voormalige Proteakaptein het gister op Instagram ’n foto van hulle twee saam met sy vrou, Danielle, geplaas.

“Op 11-11-20 het ons ’n pragtige babadogter in die wêreld verwelkom. Yente de Villiers, jy is die perfekte toevoeging tot die gesin en ons is ongelooflik geseënd. Genade onbeskryflik groot – dankie, Here!” het hy onderaan die foto geskryf.

Die 36-jarige kolwer het juis vroeër aangedui dat hy die komende Big Bash League in Australië sal misloop om by sy jong gesin – die egpaar het reeds twee seuns – te wees.

“Ons jongste kind word binnekort gebore en met ’n groeiende jong gesin, asook die onsekerheid rakende die Covid-19-reisregulasies, het ek die moeilike besluit geneem om nie vanjaar deel van die aksie te wees nie,” het De Villiers destyds in ’n verklaring gesê.

Die talentvolle kolwer het in 2018 sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig, maar sedertdien is hy steeds ’n superster by verskeie T20-toernooie oor die hele wêreld.

By die pasvoltooide Indiese Premierliga het hy ’n paar wedstryde eiehandig vir die Royal Challengers Bangalore gewen. Hy het die toernooi met 454 lopies en ’n treftempo van 158,74 afgesluit.

Met die T20-Wêreldbeker wat juis volgende jaar in Indië aangebied word, het die Protea-afrigter Mark Boucher gesê dat die moontlikheid van ’n Protea-terugkeer vir De Villiers nie uitgesluit word nie.

“Ek het nog nie weer ’n gesprek met hom gehad nie, maar hy het ’n goeie IPL-toernooi agter die blad,” het Boucher gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

Baie geluk! Sjoe dit is ‘n besonderse mooi naam vir die kleinding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.