AB in RCB-heldesaal opgeneem

AB de Villiers. Foto: Manjunath Kiran/AFP.

In sy speeldae was AB de Villiers ongetwyfeld een van die Royal Challengers Bangalore se grootste trekpleisters.

Sy gewildheid in Indië ken geen perke nie en opgewonde krete van “ABD, ABD!” het selfs in die Covid-19-era danksy groot luidsprekers deur leë stadions weerklink.

Nou het die Indiese Premierliga-span aangedui dat die talentvolle Suid-Afrikaner saam met Chris Gayle in sy heldesaal opgeneem sal word.

“AB het met sy innoverende houe, briljantheid en sportmangees ’n reuse-invloed op die spel gehad,” het Virat Kohli in ’n regstreekse huldeblyk gesê.

“Spelers soos Chris en AB het ongetwyfeld hul stempels op die IPL afgedruk. Ek het 11 jaar saam met AB gespeel en sewe jaar saam met Chris en my reis met dié twee sterre het in 2011 begin; ’n baie spesiale jaar vir my.”

’n Mens kan ongetwyfeld De Villiers se gewildheid onder RCB-ondersteuners verstaan: In 156 wedstryde vir die franchise het hy 4 491 lopies gemoker en hy het inderdaad met ’n paar verstommende vertonings vorendag gekom.

In 2012 het hy byvoorbeeld 23 lopies van Dale Steyn se boulwerk geslaan om die wedstryd vir die Bangalore-span te beklink.

Steyn was destyds die wêreld se gevaarlikste bouler en sy eerste aflewering is teen ’n blitsige 148 km/h afgestuur. De Villiers het dit egter moeiteloos oor die grenstou gejaag.

Baie kommentators is steeds van mening dat dit een van die beste IPL-beurte nóg is.

Die Suid-Afrikaner is ook as die voorste kolwer in die geskiedenis van die IPL aangewys, terwyl Ravi Shastri (Indië se voormalige nasionale afrigter) gepleit het dat De Villiers weer vir die Proteas gekies moet word.

“In hierdie moeilike tye soek wêreldkrieket vir AB de Villiers terug op die internasionale verhoog. Dit sal goed wees vir die spel,” het Shastri destyds op Twitter geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Baie geluk AB en Chris. Julle het krieket na n ander vlak geneem. Welgedaan .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.