Aussies beklink reeks teen Protea-vroue

’n Argieffoto van die Proteas se Marizanne Kapp. (Foto: Saeed Khan/AFP)

Australië het die T20-reeks teen die Protea-vroue met 2-1 beklink nadat Beth Mooney ʼn deurslaggewende vertoning in Hobart gelewer het.

Die Suid-Afrikaners het Sondag geskiedenis gemaak toe hulle die Aussies met ses paaltjies in Canberra geklop het. Hulle kon egter nie vandag op daardie vertoning voortbou nie en hulle het met vyf paaltjies die onderspit gedelf.

Mooney het met haar spogbeurt van 82 lopies uitgeblink, terwyl sy goed deur Ashleigh Gardner ondersteun is.

Dit was egter steeds ʼn aksiebelaaide wedstryd gewees – die Aussies kon eers die wenlopies in die finale boulbeurt van die kragmeting slaan.

Marizanne Kapp het vroeër haar waarde tot die Protea-groep onderstreep. Die veelsydige speler, wat in haar 100ste internasionale T20-wedstryd gespeel het, het 75 vinnige lopies van slegs 48 aflewerings gemoker.

Dit was nie net haar beste T20-poging nie, maar Suid-Afrika se eindtelling van 162/7 was die span se beste kolfprobeerslag nóg teen die Aussies.

“Ons sou baie daarvan gehou het om die wa deur die drif te trek. Ons het goed gekolf en ʼn speler soos Kappie was pleinweg uitstekend – dit het met tye gelyk of sy op ʼn teerpad kolf,” het Laura Wolvaardt, Protea-kaptein, gesê.

Die eerste eendagwedstryd word Sondag in Adelaide beslis.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 162/7 in 20 boulbeurte: Marizanne Kapp 75, Chloe Tryon 26 en Tahlia McGrath 1/17.

Australië 163/5 in 19,2 boulbeurte: Beth Mooney 82, Ashleigh Gardner 26* en Masabata Klaas 1/13.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SwartBees ·

In een wedstryd maak hulle geskiedenis en die volgende wedstryd val hulle pens en pootjies uit die bus uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.