Aussies klop Kiwi’s in rillerstryd

Australië se Glenn Maxwell vier fees nadat hy die paaltjie van Nieu-Seeland se Glenn Phillips geneem het. Die Aussies het met vyf lopies gewen. (Foto: Arun Sankar/AFP)

Die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Indië het oplaas uit sy winterslaap wakker geskrik.

Nadat Suid-Afrika Vrydag ʼn spannende laastepaaltjie-oorwinning oor Pakistan behaal het, het Australië en Nieu-Seeland Saterdag in Dharamsala daarop voortgebou en vir nog ʼn skouspel gesorg.

Ewe skielik word alle wedstryde baie beter bygewoon nadat Indië se krieketbase plan gemaak het om die stadions vol te kry.

Die Aussies, wat 388 in hul 50 boulbeurte aangeteken het, het met vyf lopies gewen nadat die Kiwi’s by 383/9 uitgekom het.

Die Kiwi’s moes 19 lopies in die laaste boulbeurt aanteken, maar nadat Jimmy Neesham uitgehardloop is, het die skaal in die Aussies se guns geswaai.

Die spanne het saam 771 lopies (die meeste nog in ʼn WB-toernooi) in slegs 100 boulbeurte aangeteken.

Daar was twee skitterhonderdtalle deur die Aussies se Travis Head (109, 69 balle, 10×4, 7×6) en Rachin Ravindra van Nieu-Seeland, wat 116 lopies (9×4, 5×6) aangeteken het.

Dit was Head se eerste wedstryd in vanjaar se toernooi nadat hy ʼn paar weke gelede sy hand gebreek het. Ewe skielik lyk die Aussies se kolflys lank en baie gevaarlik.

Voeg daarby die puik bydrae van David Warner (81) en die ander spanne sal nie meer rustig kan slaap nie.

Afgesien van Ravindra het die Kiwi’s se Jimmy Neesham (58) en Daryl Mitchell ook die tafel vir die res van die toernooi gedek.

Suid-Afrika en Indië is nou saam voor op die puntelys (albei het 10 punte), maar die Proteas het ʼn veel beter lopietempo, hoewel Indië een wedstryd minder gespeel het.

Nieu-Seeland en Australië (albei 8) vul die volgende twee posisies.

Dit lyk nou reeds na ʼn byna uitgemaakte saak dat dié vier spanne tot die halfeindronde sal deurdring, want hulle troon bo Sri Lanka, Pakistan, Afghanistan en Bangladesj en die agterosse soos Engeland en Nederland uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.