Aussies sê Duminy se 166 was van die beste nóg

JP Duminy vier sy spoghonderdtal saam met Dale Steyn. Foto: Twitter.

In skaars sy tweede toets vir die Proteas het ’n jong JP Duminy nie net die kastaiings uit die vuur vir die Proteas voor ’n stampvol Melbourne Cricket Ground gekrap nie, sy spogbeurt van 166 tel ook onder die Australiese pers se top-honderdtalle van die 21ste eeu.

Graeme Smith se Protea-span van 2008 het weliswaar die eerste toets in Perth op ’n drafstap gewen. Danksy sy 108 en AB de Villiers se onoorwonne 106, kon die Suid-Afrikaners 414 lopies vir ’n geskiedkundige oorwinning aanteken.

Duminy het in Perth ’n onoorwonne vyftigtal in die Proteas se tweede beurt geslaan. Maar hy het die ware karaktertoets met lof in Melbourne geslaag.

Die Aussies het in hul eerste beurt 394 aangeteken en die besoekers was in hul beurt diep in die moeilikheid toe Duminy met die telling op 126/4 na die kolfblad gestap het.

Dinge het selfs minder rooskleurig gelyk toe AB de Villiers en Mark Boucher ook kort daarna hul paaltjies verloor het. Met die telling op 184/7 het die oorwinning in die eerste toets soos ’n frats begin voel.

“As ons net nog 70 lopies by ons telling kan voeg, sal ek tevrede wees. Ons moet ’n manier vind om uit hierdie gat te kom wat ons vir onsself gegrawe het,” het die Protea-afrigter, Mickey Arthur, gesê.

Nou ja, Duminy het gewys dat hy oor beter trapbou-vaardighede beskik as ’n ambisieuse skoolhoof met nuwe pawiljoendrome.

Die Kapenaar het 261 lopies saam met die stertkantkolwers aangeteken om te sorg dat die Proteas ’n verstommende voorsprong van 65 lopies geniet het.

Sy poging het gesorg dat die Suid-Afrikaners sommer uit daardie gat gevlieg het!

Sy beurt van 166 het ’n spogvennootskap van 180 lopies om die negende paaltjie met Dale Steyn (76) ingesluit. Dit was net 15 lopies minder as die wêreldrekord-vennootskap van 195 wat deur Mark Boucher en Pat Symcox teen Pakistan opgestel is.

“Duminy se beurt was só briljant dat selfs die mees patriotiese Aussie dit staande toegejuig het. Dit was ’n foutlose vertoning en het die grondslag gelê vir ’n ongelooflike sege van nege paaltjies,” het Krieket Australië se Martin Smith oor die beurt geskryf.

Hoewel Steyn met sy tien paaltjies en vyftigtal as die speler van die wedstryd aangewys is, verdien Duminy al die lof vir sy merkwaardige beurt.

Sy internasionale loopbaan het daarna nie heeltemal vlamgevat nie en baie kenners is dit eens dat hy nie heeltemal tot sy volle potensiaal gespeel het nie. Maar vir daardie een, glorieryke dag in Melbourne het hy soos ’n koning gekolf.

  • Hy het uiteindelik in 46 toetse vir die Proteas gespeel waarin hy 2 103 lopies teen ’n gemiddeld van 32,85 aangeteken het. Daarteenoor is sy eersterangse gemiddeld meer as 46.

In witbalkrieket was hy baie meer bestendig. In 199 eendagwedstryde het hy 5 117 lopies teen ’n gemiddeld van 36,81 geslaan. Hy was ook die eerste Suid-Afrikaanse kolwer om meer as 1 500 lopies in internasionale T20-krieket te moker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.