Bairstow wen wedstryd vir Engelsmanne

Sam Curran wens Jonny Bairstow geluk nadat hy die wedstryd vir Engeland gewen het (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Dit het gisteraand ’n spesiale kolfbeurt van Engeland se Jonny Bairstow geverg om die eerste T20-wedstryd teen Suid-Afrika met vyf paaltjies op Nuweland te wen.

Die besoekers was kniediep in die moeilikheid met hul telling op 34/3 en die Proteas se telling van 179/6 was ligjare weg.

Maar die Yorkshire-kolwer het 13 grenshoue in sy spogbeurt van 86 gemoker. In die proses het hy uitstekend met Ben Stokes (37) gekombineer om die wedstryd buite die tuisspan se bereik te plaas.

Dit is nie die eerste keer dat dié twee rooikoppe vir Protea-nagmerries op Nuweland sorg nie: In 2016 het hulle ’n vennootskap van 399 lopies op die einste veld in ’n toetswedstryd geniet.

Veral Beuran Hendricks (0/56) het kwaai deurgeloop en Bairstow het 28 lopies in een van sy boulbeurte gelooi.

Tog kan die Proteas trots wees op sekere oomblikke in die wedstryd.

Faf du Plessis (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Faf du Plessis (58 van 40 balle) het met die vryheid van ’n man gekolf wat nie meer die kapteinskapjuk op sy skouers dra nie, terwyl George Linde baie tevrede met sy T20-buiging kan voel.

Die Kaapse draaier spog met ’n boulontleding van 2/20 nadat hy die boulwerk vir die Proteas geopen het. Hy het van die gevaarlike Jason Roy en Dawid Malan – die wêreld se voorste T20-kolwer – ontslae geraak.

Te midde van al die drama wat die Black Lives Matter-beweging, die administratiewe fiasko waarin Krieket Suid-Afrika homself bevind en die wêreldwye Covid-19-pandemie teweeg gebring het, kan die tuisspan trots voel op daardie oomblikke.

’n Paar goeie oomblikke gedurende ’n wedstryd wen egter nie ’n kragmeting nie en die Proteas sal Sondag beter in die tweede wedstryd wil speel.

Tog het hulle steeds beter vertoon as wat ’n mens verwag het.

Opsomming van die telkaart:
Suid-Afrika: 179/6 in 20 boulbeurte.
Faf du Plessis (58), Rassie van der Dussen (37), Sam Curran (3/28).
Engeland: 183/5 in 19.2 boulbeurte.
Jonny Bairstow (86), Ben Stokes (37), George Linde (2/20)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JBN ·

Dit is lekker om te lees dat n span wat op meriete gekies is het gewen. Baie bly dat die span wat op grond van die Anc se rassistiese kwotabeleid gekies is, het verloor. Diegene wat hierdie kwotaspan ondersteun moet maar volgende jaar vir die Anc in die verkiesing ook gaan stem.

MakersMark ·

Dalk choke ‘n persoon makliker op een knie as op albei voete.

Lodewyk ·

Hoop darem nie die arme bloedjies se knieë was te seer na al die kruipery nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.