Bavuma nie saam na Engeland

Temba Bavua ontvang behandeling ná ’n hou teen die arm. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

Temba Bavuma se elmboogbesering wat hy in die afgelope T20-reeks teen Indië opgedoen het, beteken dat hy nie saam met die Proteas na Engeland sal reis nie.

Keshav Maharaj en David Miller sal dan onderskeidelik die kapteinskapleisels in die eendag- en T20-reekse vasvat, terwyl Dean Elgar die toetskrieketspan sal aanvoer.

Bavuma het egter in Indië gesukkel – hy kon slegs 61 lopies teen ’n treftempo van net meer as 100 slaan en hy het veral teen die akkurate boulwerk van Bhuvneshwar Kumar kleigetrap.

Opwindende nuus is egter dat Rilee Rossouw weer vir die T20-wedstryde nadergetrek is.

Die 32-jarige kolwer lewer deesdae skitterende vertonings in die Vitality Blast-reeks en ná die Protea-kolwers se gesukkel in Indië kan hy vir die nodige bestendigheid én adrenalien-inspuiting sorg.

Met die T20-Wêreldbeker in Australië om die draai, kry spelers soos Gerald Coetzee en Tristan Stubbs ook ’n kans om hul staal te wys.

Daar is egter geen teken van Faf du Plessis nie.

Volgens Victor Mpitsang (keurderbaas) moet ’n fyn balans tussen Wêreldbeker-proeflopies en bestendigheid gehandhaaf word.

“Ons verwag opwindende wedstryde teen ’n sterk span en ons wens vir Mark Boucher en kie alle sterkte toe,” het Mpitsang gesê.

  • Die toer begin amptelik op 19 Julie met ’n eendagwedstryd in Durham.

Eendagkrieketspan: Keshav Maharaj (kaptein), Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Janneman Malan, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Anrich Nortjé, Tabraiz Shamsi, Rassie van der Dussen, Lizaad Williams, Khaya Zondo en Kyle Verreynne.

T20-span: David Miller (kaptein), Gerald Coetzee, Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Wayne Parnell, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Rilee Rossouw, Tabraiz Shamis, Tristan Stubbs en Rassie van der Dussen.

Toetsspan: Dean Elgar (kaptein), Sarel Erwee, Marco Jansen, Simon Harmer, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Duanne Olivier, Keegan Petersen, Kagiso Rabada, Ryan Rickelton, Lutho Sipamla, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Khaya Zondo en Glenton Stuurman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.