Blitzkrieg! Indië befomfaai Kiwi-boulers

Virat Kohli het ’n spoggerige honderdtal in die Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland aangeteken. (Foto: Punit Paranjpe/AFP)

Indië staan reeds met een voet in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi nadat sy kolwers vir Nieu-Seeland met ʼn wafferse blitzkrieg-vertoning in die eerste halfeindstryd op Wankhede-stadion onder druk geplaas het.

Voor ʼn see van blou ondersteuners het Virat Kohli sy gebruiklike honderdtal geslaan, kaptein Rohit Sharma het vir ʼn vuurwerkvertoning in aanloop tot die beurt gesorg en Shreyas Iyer het ʼn sesslaan-skouspel gelewer.

Ná 50 aksiebelaaide boulbeurte het Indië 397/4 op die telbord. As elke lopie in ʼn uitspeelwedstryd goud werd is, dan moet die tuisspan nou ongetwyfeld met ʼn goudmyn spog.

Dan was dit  ʼn mylpaaldag vir Kohli.

Die 35-jarige oudkaptein het die 50ste eendagkriekethonderdtal van sy internasionale loopbaan geslaan om Sachin Tendulkar se rekord te verbeter.

Saam met Iyer het hy 163 lopies om die derde paaltjie aangeteken en die arme Kiwi-boulers is wild en wakker geslaan.

Die ervare Tim Southee het weliswaar drie paaltjies geneem, maar hy is vir 100 lopies in sy tien boulbeurte gemoker.

Net Mitchell Santner het minder as ses lopies per boulbeurt afgestaan, wat net weer eens die feit onderstreep dat linkshandige draaiers vanjaar in Indië uitblink.

In Rachin Ravindra, Devon Conway en Kane Williams beskik Nieu-Seeland seker oor die nodige kolfwerkplofkrag om die telling verby te steek.

Maar hulle sal met ʼn paar baie spesiale vertonings vorendag moet kom.

  • Opsomming van die telkaart:

Indië 397/4 in 50 boulbeurte: Virat Kohli 117, Shreyas Iyer 105 en Tim Southee 3/100.

  • Spanne:

Indië: Rohit Sharma (kaptein), Shubman Gill, Virat Kohli, Shreyas Iyer, KL Rahul, Suryakumar Yadav, Ravindra Jadeja, Jasprit Bumrah, Mohammed Shami, Kuldeep Yadav en Mohammed Siraj.

Nieu-Seeland: Devon Conway, Rachin Ravindra, Kane Williamson (kaptein), Daryl Mitchell, Tom Latham, Glenn Phillips, Mark Chapman, Mitchell Santner, Tim Southee, Lockie Ferguson en Trent Boult.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.