‘Boem-boem!’ bulder Heinrich se kolf

Suid-Afrika se Heinrich Klaasen vier sy blitsige vyftigtal in die kleure van die Sunrisers Hyderabad. (Foto: Noah Seelam/AFP)

As Tsjaikowski ooit gedink het om ʼn musiekvideo vir sy 1812 Ouverture te vervaardig, hoef hy nie na beeldmateriaal van bulderende kanonne te kyk nie. Hy kan sommer die hoogtepunte van Woensdag se Indiese Premierliga-wedstryd tussen die Sunrisers Hyderabad en die Mumbai Indians gebruik.

Want goeiste, dit het omtrent vir jou sesse in Hyderabad gereën.

Op ʼn kolfblad uitgeknip vir aanvallende mik-en-mokerkolfwerk het die Sunrisers 277/3 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken: ʼn splinternuwe IPL-rekord vir die meeste lopies in ʼn kolfbeurt.

Nodeloos om te sê het Suid-Afrika se Heinrich Klaasen gewys waarom hy tans as die gevaarlikste T20-kolwer in wêreldkrieket gereken word en hy het 80 onoorwonne lopies van 34 aflewerings gemoker.

Hy het saam met Aiden Markram ʼn blitsige vennootskap van 116 lopies om die vierde paaltjie geniet en het die tuisspan se kolfbeurt met ʼn kleurvolle vuurwerkvertoning afgesluit.

Vroeër het Travis Head (62 lopies van 24 balle) en Abishek Sharma (63 van 23 balle) vir die perfekte aanloop tot die kolfverrigtinge gesorg.

Markram, wat sy 42 lopies teen ʼn treftempo van 150 geslaan het, was een van die Sunrisers se stadiger kolwers.

Dan was dit ook ʼn vuurdoop soos min vir die 17-jarige Kwena Maphaka.

Suid-Afrika se boulheld van die onlangse o. 19-Wêreldbekertoernooi het 66 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan en hy is vir vyf sesse geslaan.

Gerald Coetzee het ook nie veel beter gevaar nie en die Sunrisers het 57 lopies van sy boulwerk gemoker.

Mumbai het vir Jasprit Bumrah teruggehou in ʼn poging om Klaasen te neutraliseer, maar hoewel hy met ʼn paar uitstekende streepballe vorendag gekom het, kon hy ook nie veel doen om die lopiekrane toe te draai nie.

Dalk moes hy vroeër ʼn boulbeurt of twee afgestuur het.

Daarna het Mumbai uitstekend gekolf om 246/5 aan te teken. In enige ander wedstryd sou dit oorgenoeg lopies gewees het om die kragmeting te beklink.

Maar nie Woensdag in Hyderabad nie.

  • Opsomming van die telkaart:

Sunrisers Hyderabad 277/3 in 20 boulbeurte: Heinrich Klaasen 80*, Abishek Sharma 63 en Piyush Chawla 1/34.

Mumbai Indians 246/5 in 20 boulbeurte: Tilak Varma 64, Tim David 42* en Pat Cummin 2/35.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.