Boulers laat Windies steier

Gerald Coetzee het twee vinnige paaltjies geneem. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die Proteas het tans die hef in die hand op die Wanderers, selfs al het hulle vroeër vanoggend drie vinnige paaltjies verloor om vir 320 uitgeboul te word.

Gelukkig loop dinge (meestal) reg vir die boulers en teen middagete het hulle die Wes-Indiese Eilande tot 73/4 beperk; nog 247 lopies weg van Suid-Afrika se eerstebeurttelling.

Temba Bavuma het met sy blitsige veldwerk vir Tagenarine Chanderpaul in die vierde beurt uitgehardloop, waarna Dean Elgar vir Kraigg Brathwaite vanaf Kagiso Rabada se boulwerk uitgevang het.

ʼn Vurige Gerald Coetzee het daarna twee paaltjies laat spat: Heinrich Klaasen het eerstens vir Jermaine Blackwood agter die paaltjies uitgevang, waarna Tony de Zorzi ʼn goeie vangskoot naby die kolf benut het om van Raymon Reifer ontslae te raak.

Hoewel Simon Harmer ʼn paar swak aflewerings afgestuur het, draai hy die bal lekker en hy hou die Windies-kolwers op hul tone.

Suid-Afrika het vanoggend hul beurt op 311/7 hervat, maar hulle kon slegs nege lopies by hul oornagtelling voeg. Kyle Mayers en Alzarri Joseph het korte mette met die tuisspan se stertkantkolwers gemaak.

Die Proteas kan nog met hierdie kolfineenstortings teen die Windies wegkom, maar hulle kan nie bekostig om met ʼn soortgelyke vertoning teen Engeland of Australië vorendag te kom nie.

Tog is dit lekker om ʼn bietjie rooibalkrieket te kyk; as hierdie wedstryd verby is, is Suid-Afrika eers weer oor ʼn hele paar maande in ʼn toetsreeks gewikkel.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 320/10 in 92,2 boulbeurte: Aiden Markram 96, Tony de Zorzi en Kyle Mayers 3/32.

Wes-Indiese Eilande 73/4 in 22 boulbeurte: Roston Chase 19*, Gerald Coetzee 2/18 en Kagiso Rabada 1/10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.