Brits vier honderdtal teen Sri Lanka

Tazmin Brits (regs) het 116 lopies teen Sri Lanka geslaan. (Foto: X/Protea-vrouekrieketspan)

Tazmin Brits het die tweede honderdtal van haar eendagkrieketloopbaan geslaan, maar die wedstryd tussen die Protea-vrouekrieketspan en Sri Lanka het onbeslis in Oos-Londen geëindig.

Suid-Afrika het 270/6 in 50 boulbeurte aangeteken, maar die besoekers se kolfpoging is tot net 6,5 boulbeurte beperk voordat reënweer spel kortgeknip het.

Die 33-jarige Brits het 12 viere in haar beurt van 116 lopies geslaan en sy het ʼn openingsvennootskap van 94 lopies saam met Laura Wolvaardt geniet.

Sy en Anneke Bosch het daarna 70 lopies om die tweede paaltjie geslaan, waarna Nadine de Klerk die langsteel ingelê het om die Protea-telling ʼn hupstoot te gee.

Die 33-jarige Brits het vroeër ʼn barshou gespeel in Suid-Afrika se eerste T20-oorwinning teen Australië.

Sy het toe 41 lopies van slegs 28 aflewerings gemoker om ʼn aggressiewe grondslag vir die Proteas se suksesvolle lopiejaagtog te lê.

Die volgende wedstryd tussen die Proteas en Sri Lanka word Saterdag in Kimberley beslis.

  • Opsomming van die telkaart:

Proteas 270/6 in 50 boulbeurte: Tazmin Brits 116, Laura Wolvaardt 41 en Oshadi Ranasinghe 2/42.

Sri Lanka 23/0 in 6,5 boulbeurte: Chamari Athapaththu 12*.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.