Vrouekrieket: Laura en Tazmin tem die Aussies

(Foto: Supersport/X)

Dit was ʼn droewige Sondag vir Australiese krieket, een waaroor hulle om die braaivleisvure gaan stilbly.

Nadat die manspan in Brisbane die eerste keer sedert 1997 ʼn toetswedstryd teen die Wes-Indiese Eilande verloor het, het die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan ook die rekordboeke herskryf toe hulle die Aussies se vrouespan die eerste keer geklop het.

Nadat Australië op die Manuka Oval in Canberra tot 142/6 lopies in die tweede T20-wedstryd in sy kolfbeurt beperk is, het Suid-Afrika die wenteiken (144/4) in 19 boulbeurte verbygesteek om met ses paaltjies te wen.

Die groot kolfhelde was die kaptein, Laura Wolvaardt, met 58 onoorwonne lopies (53 balle, 6×4) en haar aanvangsvennoot Tazmin Brits met 41 (28 balle, 8x) wat die grondslag met ʼn vennootskap van 75 lopies in 9.4 boulbeurte gelê het.

Marizanne Kapp (20) en Anneke Bosch (11) het weliswaar nie baie lopies aangeteken nie, maar die nodige ondersteuning aan Wolvaardt gegee om die Aussies te fnuik.

Dit was die 24ste keer dat die twee lande slaags was (in eendag- en T20-krieket). Die naaste wat Suid-Afrika nog aan ʼn oorwinning kon kom, was in 2016 toe die kragmeting gelykop geëindig het.

Sondag se oorwinning beteken dat die reeks van drie op ʼn meskant gebalanseer is nadat die Aussies Saterdag se eerste kragmeting gewen het.

“Dit is baie spesiaal, veral omdat ons dit nog nie voorheen kon regkry nie, en dít op hul tuisveld.

“Veral omdat ʼn hele paar van ons senior spelers die afgelope paar jaar uitgetree het … om hierdie dinamiese jong span te hê wat die wêreldkampioene kon klop, is baie spesiaal en dit sal hopelik ʼn groot kopskuif wees.

“Hopelik is hul houvas nou verbreek sodat ons nou op ʼn gereelde grondslag kan wen,” het Wolvaardt ná die wedstryd gesê.

Kapp het bygevoeg dat sy verras was met hoe die Aussies hul kolfwerk benader het.

“Maar ek is verheug. Ons is een van daardie spanne wat ʼn keer naby daaraan gekom het, maar kon dit nie deurtrek nie. Daar is ʼn hele paar van ons wat  jare lank speel en dit is hoog tyd dat ons die naelskraapse wedstryde wen,” het Kapp gesê.

In die Aussies se kolfbeurt was die kaptein, Alyssa Healy, met 29 en Grace Harris met 31* die enigste kolwers wat weerstand kon bied.

Die Proteas se aanvangsbouler, Masabata Klaas (2/16 in 3 beurte), het die tuisspan vasgepen.

Maar die skroewe is in die middelbeurte vasgedraai toe die twee draaiboulers, Nonkululeko Mlaba en Chloe Tryon, die tuisspan se kolwers gewurg het.

Australië kon tussen die 13de en 18de beurte net een vier moker.

Van die Aussies se sterkolwers soos Tahlia McGrath (23 van 28 aflewerings) en Elysse Perry (18 van 19 balle) is in toom gehou.

Die derde en laaste wedstryd in die T20-reek vind Dinsdag in Hobart plaas en word gevolg deur drie eendagwedstryde en ʼn geskiedkundige eenmalige toets in Perth.

Bron: cricinfo.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.