Broad wéér tussen die paaltjies

Pakistan se Mohammad Rizwan (regs) en Engeland se Stuart Broad (links) (16 Augustus 2020) (Foto: Glyn Kirk/Pool via AP)

Die Engelsman Stuart Broad beleef tot dusver ’n droomlopie sedert toetskrieket weer ’n maand of wat gelede in Engeland hervat is.

Nadat hy in die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande weggelaat is, het hy die Eilandmanne ore aangesit en onder meer 6/31 in die derde toets op Old Trafford geneem. Hy het in die proses die sewende bouler geword om 500 toetspaaltjies in sy loopbaan te neem.

Vandag het hy ook binne ’n japtrap van Pakistan se stertkantkolwers ontslae geraak om met ’n boulontleding van 4/56 in die tweede toets teen die besoekers te spog.

In die vier toetse wat hy sedert 16 Julie gespeel het, het hy 26 paaltjies teen ’n spoggemiddeld van 12,3 geneem.

Broad het in die tweede toets teen Pakistan van Babar Azam (47), Asad Shafiq (5), Mohammad Rizwan (72) en Mohammad Abbas (2) ontslae geraak.

Hy het goed met die 38-jarige James Anderson (3/60) gekombineer om die Pakistani’s tot 236 te beperk.

Engeland het tans 7/1 op die telbord; Shaheen Shah Afridi het vir Rory Burns uitgehaal.

Dit lyk egter asof ’n onbesliste uitslag hierdie toets se voorland is: Swak lig het die tweede dag se spel in die wiele gery terwyl reënweer gister gesorg het dat nie ’n enkele aflewering afgestuur was nie.

Engeland loop met 1 – 0 voor in die reeks van drie toetse nadat hulle die eerste kragmeting met drie paaltjies gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.