Buttler, Woakes wen dramatiese toets vir Engelse

Chris Woakes en Jos Buttler. Foto: Twitter.

Met die telling op 117/5 was die skrif so te sê aan die muur vir Engeland in die eerste toets teen Pakistan op Old Trafford.

Die tuisspan het ’n onwaarskynlike wenteiken van 277 lopies gejaag, terwyl Ben Stokes, Joe Root en Ollie Pope almal terug in die kleedkamer was.

Voor die paaltjies was Jos Buttler en Chris Woakes en hoewel Buttler vir vuurwerke met die kolf kan sorg, het die sewe maer jare ongetwyfeld vir sy kolfwerk aangebreek.

Sedert die begin van 2019 het hy sy lopies teen ’n gemiddeld van net minder as 25 geslaan, terwyl hy sopas drie kanse as paaltjiewagter teen die besoekers verbrou het.

Die 29-jarige het trouens gedink dat hy sy laaste toets vir Engeland gespeel het.

Maar om ’n geykte sportuitdrukking te gebruik: Spelpeil is tydelik, klas is permanent. En Buttler (75) het emmersvol klas en deursettingsvermoë in sy briljante vennootskap met Woakes (84) gewys.

Die twee het ʼn skitterende kombinasie gevorm en 139 lopies om die sesde paaltjie aangeteken. Hulle het gesamentlik 18 grenshoue geslaan en met hul aanvallende kolfwerk weer vir Pakistan op die agtervoet geplaas.

Hoewel Buttler uiteindelik deur Yashir Shah been voor paaltjie betrap is, het hy en Woakes genoeg gedoen om die wedstryd vir die Engelse te beklink.

“Woakes en Buttler verdien krediet vir die wyse waarop hulle gespeel het; hulle het sommer van hul eerste aflewerings af aanvallende krieket gespeel,” het Azhar Ali, Pakistan se kaptein, gesê.

“Hulle het houe begin speel en dit is een van die beste vennootskappe die afgelope ruk. Ons was in beheer van die wedstryd, trouens ons was eintlik net een paaltjie daarvan weg om die wedstryd te wen, maar hulle het die spel in ’n belangrike tydstip oorheers.

“Ons was met tye ietwat ongelukkig, maar hulle was grotendeels briljant.”

Woakes is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Die volgende toets begin Donderdag in Southampton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.