Dawid wys vir Proteas waar hy die wortels begrawe het

Dawid Malan en Eoin Morgan (Foto: ECB/Twitter)

Dawid Malan is in Engeland gebore, maar hy het sy laaste matriekvraestel by Paarl Boys’ High in die Wes-Kaap geskryf. Hy het selfs sy eersterangse krieketbuiging in die 2005/’06-seisoen vir Boland gemaak.

Maar vandag – op ’n stadige blad in die Paarl – het sy spogbeurt van 55 gesorg dat Engeland die tweede T20-wedstryd teen die Proteas met vier paaltjies gewen het.

Malan se beurt het agt grenshoue ingesluit en hy het veral onder Lungi Ngidi (2/51) se boulwerk ingeklim.

Hoewel die Protea-snelbouler uiteindelik van hom ontslae geraak het – danksy ’n bobaas vangskoot deur Reeza Hendricks op die grens – het Malan steeds 16 lopies van sy boulbeurt gelooi.

Op ’n dag waar aggressiewe kolfwerk deur die baanblad bemoeilik is, het Malan se aanslag op Ngidi die momentum finaal in Engeland se rigting geswaai.

En hoewel Anrich Nortjé (0/21) en Kagiso Rabada (1/25) in die daaropvolgende boulbeurte hul bes probeer het om sake vir die Proteas te beredder, beskik hierdie Engelse toerspan oor net te veel kolfdiepte en hulle het die reeks van drie wedstryde vandag beklink.

Vroeër kon die Protea-kolwers glad nie aan die gang kom nie en net Quinton de Kock (30 van 18 aflewerings) en George Linde (29 van 20 balle) se treftempo was hoër as 100.

Tog het die Engelse kolwers ook gesukkel en ’n briljante Tabraiz Shamsi (3/19) het saam met ’n aggressiewe Nortjé die lopiekrane toegedraai.

Malan se beurt en aanslag op Ngidi was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika: 146/6 ná 20 boulbeurte. Quinton de Kock (30), George Linde (29) en Adil Rashid (2/23)

Engeland: 147/6 ná 19,5 boulbeurte. Dawid Malan (55), Eoin Morgan (26) en Tabraiz Shamsi (3/19).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andre ·

Die Engelse is die beter span in die reeks en as jy nog sit met ‘n agenda rondom spankeuses dan gaan jy moeilik op internasionale vlak presteer. Vrydag- toe van Biljon gekies word moes Nortje wat ‘n groot sukses by die IPL was, plek maak vir Hendricks en toe Nortje gekies word, moes van Biljon plek maak vir nog ‘n Hendricks

Therese ·

Ai, sekerlik bittersoet vir Dawid Malan.
Veels geluk met die puik kolfvertoning!

Oulike opskrif!
Het jare gelede geleer Dawid het die wortels “gegrawe”, maar dalk is albei reg.

Dup ·

En daar moet die minister van sport en sy span weer die knie buig voor die Engelse……

JBN ·

Goeie nuus. Die krieketspan wat op meriete gekies is wen weereens die kwotaspan wat gekies is volgens die Anc se rassistiese kwotabeleid. Indien Dawid sy krieket loopbaan in SA voortgesit het sou hy waarskynlik nie gister gespeel het nie. Kwotaspeler sou heel waarskynlik in sy plek gespeel het.

Jakes ·

Die Proteas is ryklik beloon deur die Engelse vir hul power spankeuses in albei T20 wedstryde. D

Jan ·

Meriete verslaan “social engineering”. Wonderlik. Kwotas is afskuwelik, en ek kry lekker as die span wat op meriete gekies is seëvier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.