De Kock se kolf flits in IPL

Quinton de Kock op die voorvoet vir die Lucknow Super Giants. (Foto: X/LSG)

Quinton de Kock het Saterdag met sy tydsberekening en houespel uitgeblink in die Lucknow Super Giants se oorwinning van 21 lopies teen die Punjab Kings op hul tuisveld.

Dit was die Super Giants se eerste oorwinning van die jongste weergawe van die Indiese Premierliga (IPL).

De Kock het sewe grenshoue in sy beurt van 54 lopies van 38 balle gemoker en hy het die grondslag vir Lucknow se telling van 199/8 in die toegelate 20 boulbeurte gelê.

Hy het die kaphou met groot sukses ingespan en ʼn paar aflewerings is verby én oor punt na die grens gejaag.

Sy ses van Kagiso Rabada se boulwerk – waar vinnige gewrigte sy grootste bondgenoot was – sal beslis in die YouTube-hoogtepuntsessie van die wedstryd ingesluit word.

Daarna het die 21-jarige Mayank Yadav die spoednaald in die rooi gedruk en die Punjab-kolwers met sy aggressie laat bontstaan.

Een van sy aflewerings is teen 155,8 km/h gemeet.

In vandag se wedstryde speel Heinrich Klaasen se Sunrisers Hyderabad teen David Miller se Gujarat Titans, terwyl die Delhi Capitals later met die Chennai Super Kings kragte meet.

  • Opsomming van die telkaart:

Lucknow Super Giants 199/8 in 20 boulbeurte: Quinton de Kock 54, Krunal Pandya 43* en Sam Curran 3/28.

Punjab Kings 178/5 in 20 boulbeurte: Shikhar Dhawan 70, Jonny Bairstow 42 en Mayank Yadav 3/27.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.