Dié krieket-appel val nie ver van die wilgerlat-boom

Makhaya Ntini omhels sy seun ná sy spogdebuut vir die Cape Cobras in die Momentum-eendagbeker: Foto: SuperSport-skermskoot.

Met sy 390 toetspaaltjies is Makhaya Ntini een van Suid-Afrika se suksesvolste boulers.

In die era vóór Dale Steyn en Morné Morkel hul stempel op internasionale krieket afgedruk het, was die Oos-Kapenaar beslis die speler na wie Graeme Smith of Shaun Pollock gedraai het wanneer hulle dringend ’n paaltjie moes neem.

Nou maak sy seun, Thando, óók opslae op die Suid-Afrikaanse eersterangse toneel.

Hy het die afgelope naweek met die bal in die Cape Cobras se eendagwedstryd teen die Warriors in Oudtshoorn uitgeblink en 4/36 in nege boulbeurte geneem.

Thando Ntini boul vir die SA o.19-span. Foto: Cricinfo.

“Dit was baie opwindend om te sien hoe hy sy debuut maak, terwyl sy pa kommentaarwerk vir SuperSport doen,” het sy afrigter, die voormalige Proteakolwer Ashwell Prince, gesê.

Die 19-jarige Thando is ’n snelbouler net soos sy pa, maar hy kan ook nodige lopies as ’n linkshandige kolwer slaan.

Hy het 5/46 in ’n beurt vir die Suid-Afrikaanse ontwikkelingspan teen sy Sri Lanka-eweknie geneem, terwyl hy later 4/76 teen dieselfde teenstanders geneem het.

Maar Prince is veral beïndruk met sy vertoning teen die Warriors.

“Pieter Malan het weliswaar ’n honderdtal met die kolf geslaan, maar vanuit ’n boulwerk-perspektief het hy eintlik ’n speler van die wedstryd-vertoning gelewer.”

Volgens Prince is die jong Ntini se werketiek op dieselfde vlak as sy pa en hy verdien beslis al die sukses wat in sy rigting kom.

“Hy oefen ongelooflik hard aan sy kolf-, boul- en veldwerk. Sy energie laat my baie aan sy pa dink.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.