Dis Klaasen teen Bumrah en kie

Heinrich Klaasen laat waai vir die Sunrisers Hyderabad. (Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP)

Heinrich Klaasen se kanonkolf het in die afgelope SA20-toernooi ʼn paar keer die Sunrisers Eastern Cape op die wenpad weggestuur.

Die 32-jarige kolwer se aggressiewe benadering en unieke sesslaanvermoë plaas boulers onder druk en hy het sy lopies teen ʼn ongelooflike treftempo van 177 geslaan.

Druk die versnelknoppie na die Indiese Premierliga (IPL) en Klaasen het reeds met ʼn dinamietvertoning vorendag gekom toe hy 63 lopies van slegs 29 lopies teen die Kolkata Knight Riders gemoker het.

Die Sunrisers Hyderabad-speler het Saterdag agt sesse in sy blitsbeurt geslaan en hy was weer eens op sy aanvallende beste teen draaiboulwerk.

Dit is juis sy behendigheid teen draaiers wat van hom ʼn gevaarman in Indië maak.

Maar vandag sal hy onder meer teen Jasprit Bumrah en Gerald Coetzee – twee topsnelboulers – te staan kom wanneer die Sunrisers teen die Mumbai Indians in Hyderabad speel.

Bumrah het juis met sy sweepslagaksie drie paaltjies teen die Gujarat Titans laat kantel, terwyl Coetzee ook twee paaltjies geneem het.

Klaasen het egter al op die internasionale verhoog gewys dat hy ewe behendig teen blitsboulers is. Wie sal sy warrelwindbeurt van 174 lopies teen Australië op SuperSportpark vergeet?

En dit boonop teen ʼn aanval wat boulers soos Josh Hazlewood (snelbouler) en Adam Zampa (draaier) ingesluit het.

Daarbenewens het hy ook tydens verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi sy stempel in Indië afgedruk toe hy ʼn honderdtal in moeilike toestande teen Engeland aangeteken het.

“Ek moes baie diep delf; ek het niks meer energie oorgehad nie,” het Klaasen destyds gesê nadat hy 109 lopies teen die Engelsmanne geslaan het.

“Dit was soos om knaend warm lug in te asem. Elke enkellopie wat jy probeer hardloop, het net meer energie getap en op die ou einde wou jou liggaam net nie meer lekker saamwerk nie. Tog speel ʼn mens vir jou land en ek het my hele lewe hiervoor gewerk.”

Vanmiddag se IPL-wedstryd tussen die Sunrisers Hyderabad en die Mumbai Indians begin om 16:00 en dit word op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.