Elegante Janneman moet Protea-keurders laat nadink

Janneman Malan. (Foto: Christiaan Kotze/AFP)

Die Suid-Afrikaanse eendagkrieketspan maak ontsettend baie staat op Quinton de Kock, maar wanneer hy die dag nie kan speel nie, hoef die keurders niks verder as in die rigting van Janneman Malan te kyk nie.

Dié 25-jarige elegante aanvangskolwer, wat in 1996 in Mbombela (Nelspruit) gebore is en aan die Hoërskool Waterkloof matriek behaal het, het Saterdag in Colombo in die tweede eendagwedstryd teen Sri Lanka sy derde honderdtal in net nege eendagwedstryde aangeteken.

Malan, wat 121 lopies gemoker het (135 balle, 9×4, 1×6), het die ankerrol van Suid-Afrika se kolfbeurt van 47 boulbeurte gespeel.

Malan, wat 23 lopies in die eerste kragmeting aangeteken het, was baie tuis teen die naat- en draaiboulers. Hy het sy voete baie goed gebruik en lopies aan weerskante van die paaltjies aangeteken.

Hy het nou reeds 627 lopies in slegs 8 eendagkolfbeurte aangeteken en spog met ʼn gemiddeld van 104.50. Hy is onlangs ook as speler van die reeks teen Ierland in Dublin en Belfast aangewys.

Malan sal ook nie die Proteas in die komende T20-Wêreldbekertoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate verswak nie.

Dis byna seker dat Reeza Hendricks vir Temba Bavuma sal instaan as die kaptein nie van sy gebreekte hand herstel nie, maar Malan kan beslis ook in aanmerking kom.

Hendricks, wat nie in die eerste wedstryd gespeel het nie, het juis Saterdag 51 op nommer drie aangeteken, terwyl Heinrich Claassen ook tot sy reg gekom het met 43 lopies (4×4, 1×6) wat verdere aansien aan die kolfbeurt verleen het.

Dit gee die afrigter, Mark Boucher, soveel meer skietgoed wanneer hy die wolwe van sy deur moet weghou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris dupreez ·

Vir seker Quinten de Kok en Janneman Malan as 1 en 2 dan Reeza Hendriks op 3 , dan Rassie van der Dussen. En so . Ek sien nie plek vir Aiden Markram nie. Hy is n absolute perfekte kolwer ,maar maak daai een dwase fout wat hom sy paaltjie kos. Hy moet werk daaraan om dit te oorkom. Hy verloor ongelukkig meermale sy paaltjie op lae tellings as wat hy hoë tellings aanteken. Markram kan beslis nie net gelos word nie , Boucher hulle sal moet werk om sy konsentrasie fout reg te stel, as kolwer is hy tegnies perfek.

Casper ·

Ai Chris waar en wyse woorde.Onthou tog net Bavumatjie “moet”speel al verdien hy myns insiens nie om daar te wees nie.Maharaj is na my mening ook ‘n beter kaotein.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.