Elgar wen loot in laaste toets, kolf eerste

Suid-Afrika se Dean Elgar. (Foto: William West/AFP)

Dean Elgar speel sy 86ste en laaste toets op die ikoniese Nuweland-krieketveld in Kaapstad en die hardebaard-openingskolwer het pas die loot gewen en besluit om eerste teen die besoekende Indiërs te kolf.

Hy sal die Suid-Afrikaanse beurt saam met Aiden Markram begin, terwyl Tristan Stubbs sy toetsbuiging vir die Proteas sal maak.

Die 23-jarige Oos-Kapenaar speel in die plek van die beseerde Temba Bavuma en volgens die amptelike spanlys sal hy vierde gaan kolf.

Die tuisspan sal ook swaar op die kolwe van Tony de Zorzi en David Bedingham steun om lopies aan te teken – al twee spelers handhaaf tans goeie spelpeil en hulle het in vorige beurte lopies teen die Indiese boulaanval aangeteken.

Dan vervang Lungi Ngidi die beseerde Gerald Coetzee, met Keshav Maharaj die enigste draaier in die Protea-elftal.

Daarteenoor het Indië twee veranderings aan sy span aangebring: Ravindra Jadeja vervang Ravichandran Ashwin, terwyl Mukesh Kumar in die plek van Shardul Thakur speel.

Indië kon nog nooit ʼn toetsreeks in Suid-Afrika wen nie en ná ses probeerslae is hulle ook nog wenloos op Nuweland.

Elgar, wat Suid-Afrika nog nooit in ʼn internasionale eendagkrieket-uitkloptoernooi verteenwoordig het nie, het gesê dat dié reeks sy Wêreldbeker is.

Hopelik kan die Proteas nou die knoop deurhak. Vir mekaar. En vir Elgar.

  • Spanne

Suid-Afrika: Dean Elgar (kaptein), Aiden Markram, Tony de Zorzi, Tristan Stubbs, David Bedingham, Kyle Verreynne, Marco Jansen, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Nandre Burger en Lungi Ngidi.

Indië: Yasasvi Jaiswal, Rohit Sharma (kaptein), Shubman Gill, Virat Kohli, Shreyas Iyer, KL Rahul, Ravindra Jadeja, Jasprit Bumrah, Mohammed Siraj, Prasidh Kirshna en Mukesh Kumar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Carl ·

Lyk my hy gaan die korste kaptein van ‘n toets wees soos die chokers nou aangaan…..

Cobus ·

Op 51 vir 8 lyk dit beslis of dit ‘n groot fout was om eerste te kolf. Is daar niemand meer in die spanbestuur wat ‘n blad reg kan lees nie?

Kuver ·

55 almal uit, kom ons hoor wat Piet en sy tjommie George te se het, die hele span is kwotas want die beste spelers speel in ander lande

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.