Engeland se ‘ooms’ moet Aussies laat bontstaan

Engeland se James Anderson. (Foto: Twitter/ECB)

ʼn Ervare skerpskutter kan sekerlik net soveel skade as ʼn paar groentjies met ʼn sporadiese masjiengeweer aanrig, nie waar nie?

Dit moet Brendon McCullum en Ben Stokes se redenasie wees op die vooraand van die vierde toets in die Reeks om die As teen Australië op Old Trafford.

Engeland se James Anderson (40), Stuart Broad (37), Chris Woakes (34) en Mark Wood (33) is deel van die oudste snelboulaanval in die As-reeks sedert 1928.

Voeg daarby die 36-jarige Moeen Ali wat die rol van spesialisdraaier vertolk, en jy sit met ʼn paar “ooms” in die elftal.

Tog beteken oud nie noodwendig koud nie en in Anderson het Engeland byvoorbeeld ʼn baie suksesvolle swaaibouler wat boonop op sy tuisveld in aksie is.

“Ek dink nie ons ouderdom is ʼn slegte ding nie,” het Ali gesê.

“Ons praat nou hier van Jimmy, Broady, Woakesey en Woody – uitstekende boulers op wie jy altyd kan reken. Engeland is ongetwyfeld ook ʼn beter span wanneer James Anderson in die elftal is.”

Anderson het weliswaar nog net drie paaltjies in sy eerste twee probeerslae (op Edgbaston en Lord’s) in die reeks geneem, maar Ali meen dat hy beter geboul het as wat die wedstrydstatistieke ʼn mens wil laat glo.

Hy het in Februarie die oudste bouler sedert Clarrie Grimmett in 1936 geword om heel bó aan die toetskrieketboulerranglys te pryk.

Eintlik kan hy die hoofrol in die opvolgprent van Brad Pitt se The Curious Case of Benjamin Button vertolk want hy laat boulwerk net beter lyk soos wat die kersies op sy verjaardagkoek meer word.

James Anderson en Stuart Broad. (Foto: Glyn Kirk/AFP.)

Sedert hy in 2017 sy 35ste verjaardag gevier het, het hy al meer as 200 paaltjies laat spat.

Boonop is sy boulvennootskap met Broad nou meer as ʼn duisend paaltjies werd en Stokes meen dat dié rekord nie sommer verbeter sal word nie.

“Ek kan nie eintlik sien dat die rekord ooit verbeter sal word nie – veral as ʼn mens in ag neem dat daar al minder toetskrieket gespeel word,” het Engeland se rooibalkrieketkaptein gesê.

Suid-Afrika se Dale Steyn het ook al vantevore Anderson se lof besing.

“Ek hou hom gereeld dop wanneer hy boul en dit is eintlik net belaglik. Ek kon nooit sulke groot inswaaiers boul óf die kolfkampie op so ʼn slim wyse benut nie,” het die Protea-legende gesê.

Australië geniet ʼn voorsprong van 2-1 in die reeks.

Die eerste aflwewering van die Old Trafford-toets word Woensdag om 12:00 afgestuur en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Engeland: Zak Crawley, Ben Duckett, Moeen Ali, Joe Root, Harry Brook, Ben Stokes (kaptein), Jonny Bairstow, Chris Woakes, Mark Wood, Stuart Broad en James Anderson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.