Eendaagse krieket is nie toetskrieket nie, en dit is twee veranderde spanne van Suid-Afrika en Bangladesj wat Sondag (10:00) in Kimberley in die eerste van drie eendagwedstryde teen mekaar te staan kom.
Die groot kanonne, die draaibouler Mashrafe Mortaza en Shakib Al Hasan, die wêreld se voorste veelsydige speler in toets-, eendaagse- en T20-krieket, is van Bangladesj ontbied om die toerspan te versterk en sal ʼn gewisse verskil maak.
Shakib Al Hasan is ʼn linkskolwer en ortodokse linksdraaier. Hy het reeds 177 eendaagse wedstryde agter die rug, 4 983 lopies teen ʼn kolfgemiddelde van 34,85 aangeteken wat sewehonderdtalle en 34 vyftigtalle insluit; en het ook al 224 paaltjies geneem (gemiddelde 29,49 per paaltjie; 4,42 per boulbeurt).
Hy het Donderdag in die opwarmwedstryd teen die SA X1-tal 68 lopies geslaan.
Mashrafe Mortaza het in 179 eendaagse wedstryde gespeel, 232 paaltjies teen 30,56 geneem en 4,75 lopies per boulbeurt afgestaan. Sy kolfwerk is egter nie waffers nie.
♦ Aan die Proteas se kant sal daar sommer ʼn hele paar nuwe gesigte wees.
David Miller, wat in sy 100ste internasionale eendaagse wedstryd speel, het in sy laaste vyf eendagbeurte in Kimberley drie honderdtalle aangeteken en verleen sommer baie slaankrag en diepte aan die kolforde.
AB de Villiers is ook weer terug op nasionale vlak – en sy vertoning, hoewel in ʼn ander formaat as toetskrieket, sal met die oog op die reeks teen Indië vroeg aanstaande jaar, baie interessant wees.
Hy het Donderdag 43 in 50 balle vir die SA XI-tal aangeteken. Hy is, ondanks sy lang afwesigheid, steeds derde op die ranglys.
JP Duminy, wat klaar is met toetskrieket, kan op sy beste as kolwer ook ʼn sterk bydraer tot die telling wees en is ʼn goeie sesde bouler. Hy het Donderdag 34 in 42 balle geslaan.
Temba Bavuma, Farhaan Behardien en die nuweling Dane Paterson sal waarskynlik uit die 14-tal weggelaat word.
Die Proteas se draaier Imran Tahir, steeds die wêreld se nommer een-bouler in eendagkrieket, sal saam met Dwayne Pretorius van buite die toetsreeks bykom om Kagiso Rabada, Andile Phehlukwayo en waarskynlik Wayne Parnell (of Dane Paterson) by te staan.
Dit is ook belangrik dat Quinton de Kock, wat vanweë die swak gehalte van die Bangladesji-boulers die afgelope tyd min gekolf het, as aanvangskolwer sy kanse moet gebruik.
♦ Die wedstryd begin 10:00.
Nog nooit van Chris Muller gehoor wat 100 gespeel het nie. Wa kom hy nou vandaan. Maroela julle maak lelike foute
Dagsê Anita
Dankie vir jou valkoog, die berig is gewysig.