Frans Cronjé skryf oor Hansie, Ewie

Hansie Cronje. Argieffoto.

Dit is vandag 18 jaar gelede toe Suid-Afrika se charismatiese krieketkaptein, Hansie Cronjé, in ’n vliegtuigongeluk naby George gesterf het.

Cronjé is weliswaar weens sy beweerde betrokkenheid by wedstrydknoeiery lewenslank uit krieket geskors, maar in sy speeldae was hy die toonbeeld van ’n gesonde Protea-groep.

Sy mokerveeghou het vir Shane Warne getem, terwyl die Proteas onder sy leierskap hul eerste (en enigste) internasionale trofee gewen het toe hy in 1998 die Wills-beker omhoog gehou het.

Cronjé se pa, Ewie, is drie weke gelede op 80-jarige ouderdom aan kanker oorlede. Ook hy was ’n legende in Suid-Afrikaanse krieketkringe en het veral as administrateur van formaat sy stempel afgedruk.

Nou het Frans Cronjé, bekende Suid-Afrikaanse regisseur, ’n hartroerende huldeblyk aan sy pa en broer op sosiale media gedeel.

“1 Junie 2020 sal altyd ’n emosionele dag wees; my pa is drie weke gelede met my broer herenig. My broer het vir presies 18 jaar vir hom in die hemel gewag,” het hy op sy Facebook-blad geskryf.

Volgens Cronjé herinner vanoggend se weer in Kaapstad hom aan die dag toe Hansie in die ongeluk was.

Ewie Cronje en sy vrou San-Marie. Foto: Verskaf.

“Ja, daar is trane wat oor my wange rol en ek mis hulle al twee. Maar, daar is vrede in my hart en dié vrede kan net van Jesus Christus kom.”

Hy skryf dat dit ’n onbeskryflike voorreg was om saam met sy ma en suster aan sy pa se sy te wees toe hy sy laaste asem uitgeblaas het.

“Ek het net weer ’n gevoel van ewigheid ervaar. Jy sien, die lewe is vir ewig en God se planne is vir alle ewigheid.”

Terselfdertyd wil hy ook hulde aan sy ma, San-Marie, bring wat sy pa so goed oor die afgelope paar jare versorg het.

“Vandag vier ek my wonderlike familie wat nog saam met ons op aarde is; my ma, suster, sowel as my vrou en kinders. Ek bring hulde aan ’n God wat ons só lief gehad het, dat Hy bereid was om ’n baie duur prys te betaal sodat ons kan lewe.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Adam Adriaan ·

‘n Voortreflike familie. Toonbeeld van ordentlikheid.

Cora ·

Ek was by Wanderes (nou 78) daardie laaste wedstryd waar Hansie die Kaptein moes wees . Hy het toe ongelukkig die Maandag skuld erken. Ons het plakate gehad wat gese het ” jy wat sonder sonde is tel die eerste klip op” maar is gevra om dit neer te sit. Dit was ‘n “Groen” dag en ons het twee kolwe en ‘n program wat Hansie geteken het as kaptein en moes toe terug staan gewen. Ons was die beste aangetrekte “Groen” toeskouers. Almal het gejuig toe Shaun Pollock sy kolf in die lug gehou het nadat hulle Australie stof in die oe geskop het en Shaun het gese “This is for you Hansie” . Hansie was GROOT en nog steeds een van ons krieket helde. Maak nie saak wat gebeur het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.